My naam is Andre Davi en is getroud met 'n
wonderlike vrou, Mandy-Allen. God het vir
ons met drie kinders geseën, Andre, Fabio en
klein Ronaldo. Hierdie getuienis is oor
Ronaldo.
Alles het begin met 'n droom wat ek 'n paar
maande gelede gehad het: ek het gedroom dat
my swaer agteruit gery het oor Ronaldo en
dat sy kop vergruis is. Ek en my vrou het
dit bespreek en besluit dat dit net 'n droom
was.
Twee weke daarna het ek dieselfde droom
gehad en dit weer met my vrou bespreek. Die
droom het my egter so ontstel en ek het
besluit om na my swaer, Raymond, te gaan wat
'n paar blokke verder woon. Hy herstel
motors en is 'n duikklopper. My woorde aan
hom was: "Raymond, ek het gedroom dat jy
agteruit gery het oor Ronaldo en sy kop
vergruis het. Belowe my asseblief dat,
wanneer jy aan motors werk, jy altyd daarop
sal let dat daar geen kinders in die pad is
nie." Hy het my belowe en ek het hom bedank.
Op 9 Julie, het ek 'n oproep ontvang wat ek
vir die res van my lewe sal onthou. My
niggie het ons meegedeel dat 'n motor oor
ons seun gery het en dat ons dadelik
hospitaal toe moes gaan. My vrou was
absoluut ongelooflik en het gesê: "Andre,
bly kalm, ervaar die vrede van God terwyl
ons saam bid." Ek wou weet hoe dit moontlik
was om in hierdie omstandighede te bid,
terwyl ons nie geweet het of ons drie-jarige
seun die ongeluk sou oorleef nie. Sy het
aanhou bid en ander vriende gebel en gevra
dat hulle saam moes bid.
Toe ons by die hospitaal aankom, het ek 'n
bloedspoor in die gang gesien en terwyl ons
af in die gang gehardloop het, het ek gebid:
"Here is hierdie my seuntjie, wat nog so
klein is, se bloed hier in die gang? Dis te
erg, dit moet iemand anders se bloed wees."
By die noodafdeling het ons gesien hoe die
dokters vir sy lewe veg.
My swaer, Raymond, het verwese en
inmekaargekrimp in die gang gesit. Ek het
geweet dat dit die draaipunt was wat God wou
gebruik. Ek het gedink: "Hy het belowe om
versigtig en oplettend te wees en hy was nie".
Ek wou hom fisies aanrand, maar God het met
my gepraat en vir my gesê: "Andre, gaan jy
vir Raymond vryspreek, gaan jy hom vergewe
of gaan jy hom aanrand?" My antwoord was:
"Here, ek wil hom aanrand en seermaak, maar
ek weet as ek hom vergewe en vryspreek, sal
U my seun genees, want waarom praat U so met
my?"
Ek het dus na Raymond gekyk en gesê: "Here,
ek spreek die man vry, ek vergewe hom vir
dit wat hy gedoen het." Onmiddellik het ek
die vrede van God ervaar. 'n Uur later is
ons kind gestabiliseer en in hoësorg geplaas.
Die dokters kon ons nie veel hoop gee nie,
omdat sy toestand nog steeds baie kritiek
was.
Ons het gebid en was verseker dat Ronaldo
nie sou sterf nie, ten spyte daarvan dat die
dokter aan ons gesê het dat hy nooit weer
sou kon loop, praat en hoor nie, as gevolg
van 'n gekraakte skedel. God het vir ons die
volgende skrifgedeelte gegee: Filippense 2:9
"God het Hom die Naam gegee wat bo elke naam
is, sodat in die Naam van Jesus elkeen wat
in die hemel en op die aarde en onder die
aarde is, die knie sou buig." Ons het besef
dat doofheid net 'n naam is en dat as ons in
die Naam van Jesus sou buig, ons kind genees
sou word.
'n Maand en 'n half later het Ronaldo begin
praat, hy kan reeds hoor en sien en ons moes
hom van vooraf leer loop.
Ek wil almal bemoedig om te besef dat die
draaipunt plaasvind wanneer 'n mens vergewe
en afstand doen van alle haat, want as ons
dit nie doen nie, sal ons verhoed dat die
seëninge van God in ons lewe werksaam word
en daardeur sal ons ook verhinder dat die
genesing wat net God kan bewerkstellig in
ons lewe 'n werklikheid word.