Hy wat die meeste
punte behaal is nie noodwendig die wenner nie
deur Roland Gaspar
Wanneer 'n mens 'n sportsoort beoefen, word die wenner deur 'n
puntestelsel bepaal. Selfs sogenaamde vriendskaplike wedstryde het 'n
wenner en verloorder wat deur die puntestelsel bepaal word. Onder die
term "sport" word verskillende aktiwiteite verstaan. Daar is aktiwiteite
wat strategieë vereis soos snoeker en skaak, ander weer vereis krag,
soos gewigoptel, terwyl motorresies weer tegnologie en vaardigheid
vereis, om maar net 'n paar te noem.
Ons kan duidelik sien dat dit onsinnig sal wees om die puntestelsel van
een sportsoort op 'n ander te wil toepas. (Dink maar net hoe 'n
gholfspeler sal voel as hy die meeste punte in die toernooi behaal het).
Waarom beoordeel ons dan so dikwels mense met verskillende vaardighede,
talente en bekwaamhede met dieselfde "puntestelsel"?
Wanneer ons mense volgens hulle materiële besittings of die grootte van
hulle inkomste beoordeel, sal Moeder Theresa, Ghandi en selfs Jesus maar
baie ver te kort skiet. Of as ons persone met artistieke talent alleen
in invloedryke posisies plaas, sal ons pragtige parlementêre geboue hê,
met 'n onbevoegde regering! Dit is verstommend dat dieselfde mense wat
die verskillende kleure van die reënboog bewonder, mense wil dwing om
dieselfde op te tree.
Sommige mense poog hulle hele lewe lank om punte aan te teken, om dan
agter te kom dat hulle vir die verkeerde doelpale gemik het. Sukses word
meer bepaal deur die vaardighede wat jy ontwikkel terwyl jy die spel
speel, as deur die punte op die puntebord. Die kwaliteit van 'n speler
word tog nie deur die kleredrag van sy span bepaal nie. 1 Samuel 16:7
herinner ons, "Die mens kyk na die uiterlike, maar die Here na die
innerlike".
Moenie iemand beoordeel alleenlik volgens jou norme nie. Moet jouself
ook nie volgens ander se waardesisteme beoordeel nie. Om jou met ander
te vergelyk, of hulle met jou, veroorsaak dikwels dat daar onenigheid
tussen julle ontstaan. Daar sal altyd mense wees wat beter daaraan toe
is as jy en daar sal altyd mense wees wat slegter daaraan toe is as jy.
Om te vergelyk het alleen waarde as jy meet waar jy was teenoor waar jy
nou is. Dit word vooruitgang genoem.
Die geheim van die lewe, net soos in sport, lê in die liefde vir die
spel. Daar is nie baie sportmanne wat kampioene word, deur die
sportsoort waaraan hulle deelneem te haat nie. Wanneer jy die lewe as 'n
sportsoort sien, sal jy elke dag as 'n nuwe wedstryd beskou. Jy gaan 'n
paar wen en jy gaan 'n paar verloor. Jou vaardighede gaan egter
deurentyd toeneem. Wanneer jy speel omdat dit 'n vreugde is, sal jy
ervaar dat jy ook die dae wat jy nie wen nie, geniet.