Luister aanlyn
Luister op DStv
Luister op jou selfoon
Volg ons op Facebook
 
Finansiële Vakansie-stres
Die Kersversierings is weggepak, die swembroeke terug in die kas en die Kerspresente wat 'n aardige bedraggie gekos het, is weggepak of dalk al vergeet... maar dan kom daardie kredietkaartstaat!

Ons is geneig om deur die Kersseisoen baie impulsief en emosioneel geld te spandeer. Na die feesseisoen kom die spyt gevoel en mense sukkel vir maande om finansieel orent te kom. Wêreldwyd en in Suid-Afrika gaan almal onder swaar tye gebuk, met hoë rentekoerse, stygende voedsel- en brandstofpryse en dan kom Januarie en kinders het nuwe skoolklere nodig en 'n eindelose lys van benodigdhede vir die nuwe skooljaar.

As jy oorspandeer het gedurende die vakansietyd, gaan hierdie 'n tyd wees van streng finansiële dissipline en konsolidering, anders gaan die web van slegte skuld jou vasvang en dit gaan al hoe moeiliker wees om daar uit te kom. Dit gaan ook nie help om die probleem te ignoreer deur jou kredietkaartstate in die laai weg te steek nie, so haal diep asem, en kyk daardie syfers in die oë.

Die eerste stap is om 'n lys te maak van hoeveel skuld jy werklik het en dit dan te vergelyk met die bedrag wat jy begroot het vir betalings. As daar 'n tekort is, bestudeer jou begroting en kyk waar jy kan afskaal of selfs "leen" by jou spaargeld om die skuld af te betaal. Hierdie is ook 'n goeie tyd om 'n "groen beleid" by die huis in te stel. Sny jou huis se elektrisiteitsverbruik deur onnodige ligte en toerusting af te skakel. Trek die muurproppe uit van toerusting wat op "stand by" is. Maak die tyd wat die swembadpomp aan is minder, gebruik die wasgoedlyn in plaas van die tuimeldroër. Installeer 'n tydskakelaar vir jou geyser wat tot 40% van jou huishouding se kragverbruik kan wees. Gebruik badwater om die tuin mee nat te maak en neem eerder korter storte in plaas van vol baddens.

Vermaak sal afgeskaal moet word tot die finansies weer gesond is. Om uit te eet, wegneemetes te koop en te gaan fliek of selfs DVD’s uit te neem sal opgeoffer moet word. Gelukkig is ons in 'n land met fantastiese somerweer – kom bietjie uit saam met die familie! Gaan stap, spandeer tyd saam met mekaar en moedig jou kinders aan om te lees.

Die begin van die jaar is die ideale geleentheid om jou uitgawes te evalueer. Maak seker dat jy spaar by versekeringspremies deur die bedrae aan te pas soos jou motor byvoorbeeld in waarde verminder. Beplan jou roetes goed as jy moet motor ry sodat jy die meeste take kan afhandel op een roete in plaas daarvan om klomp klein ritte te onderneem. Kom in die gewoonte om 'n kruidenierslysie op te stel in plaas van om net in te stap in die winkel en onnadenkend te koop. Maak seker die items op die lys is dinge wat jy regtig nodig het en nie luukses wat jou op die pad na finansiële gesondheid gaan kortwiek nie.

Wanneer jy die kinders se skoolgoed koop, kyk vir "Terug skool toe" spesiale aanbiedings en doen eers bietjie navorsing om te kyk waar jy die beste pryse kan kry. Vergelyk die verskillende advertensies en maak seker jy betaal 'n goeie prys en dat dit nie net 'n goeie advertensie is nie!

Vir die wat dit kon regkry om by hul begrotings vir die vakansie te bly is dit nou die tyd vir beplanning. Maak 'n lys van verjaarsdag- en herdenkingsgeskenke wat jy vir die jaar gaan nodig hê en begin al vroeg-vroeg rondsoek vir winskopies. Weereens, maak seker dat dit regtig 'n winskoop is en nie net oortuigende advertensies nie. Gebruik al hierdie spaarwenke en voeg die by jou leningsafbetalings of spaarrekening om 'n buffer op te bou vir daardie onvoorsiene dinge.

Die versoeking om meer te spandeer as wat jy kan bekostig is altyd daar, maar onthou: dit is altyd makliker om in die skuld te kom as daar uit! Selfdissipline en basiese riglyne en kennis sal jou help om te beplan vir dit wat jy nodig het en wil hê, sonder om in finansiële moeilikheid te kom.

 

Gaan Na
Belê in die Koninkrykswerk van God
Kontak Kliëntediens
Opdateer jou luisteraar- / kliëntinligting
Ander maatskappye wat met Radiokanse ge-assosieer word
Adverteer op die lug of aanlyn
Radiokansel Beradingsdiens
Gaan na ons aanlyn inkopie winkel
Vertroulikheidsbeleid/Bepalinge & Voorwaardes     Radiokansel © 2011. Alle regte voorbehou