Weet jy dat mense wat duisende jare terug gelewe het alles gehad
het wat ons vandag het? Selfs mense in antieke tye wat in grotte
en gehuggies gewoon het, het al die rekenaars, helikopters,
mikrogolfoonde, selfone en ander dinge gehad wat ons het!
Hierdie uitlating klink totaal vêrgesog, maar dit is tog waar in
die sin: Alles wat die mensdom nodig gehad het om moderne
tegnologie mee te ontwikkel was al beskikbaar op die aarde,
selfs tienduisend jaar terug. Die mense van antieke tye het
reeds al die bestanddele tot hul beskikking gehad – hulle moes
dit nog net ontdek en ontwikkel.
Die items wat ons vandag gebruik en geniet kom van dieselfde
aarde as die een waarop antieke volke geleef het, maar in hulle
tyd was al die wonderlike hulpbronne nog nie ontdek, bestudeer,
gevorm en gebruik nie… Dieselfde is waar oor my en jou. Ons het
ongelooflike talente, gawes, sterk eienskappe en kwaliteite
waarmee God ons geskep het.
Die NLV
Bybelvertaling sê dit so mooi in Psalm 139:13-16 "U self het my diepste wese gemaak,
my in die moederskoot gevorm.
Ek loof U omdat U m so besonder wonderlik gemaak ht.
U werke is wonderbaar, ek weet dit alte goed!
My beendere was vir U sigbaar
toe ek stilletjies gevorm is in die diepste van die moederskoot.
U het my gesien voor ek gebore is,
in u boek is alles opgeteken;
elke dag is bepaal voordat een van hulle daar was."
Net soos al die verskillende natuurlike hulpbronne wat in die
aarde is, ontdek, ontgin en verwerk moes word, net so is dit ons
verantwoordelikheid om ons eie hulpbronne te ontdek en ontgin.
Soos ons sien in Psalm 139, het God ons so gemaak met al ons
versteekte talente omdat Hy weet hoe al die dae van ons lewens
gaan verloop.
Wat jy in die verlede bereik het is nie die volle potensiaal van
jou talente en vermoëns nie. Daar is nog baie meer vermoëns wat
jy net moet ontdek.
Natuurlik moes die tegnologie wat ons vandag het, eers deur
ontwikkelingsfases gaan. Vervaardigingsprosesse moes ontdek en
beproef word. Nuwe kombinasies van rou materiale moes ontwikkel
word wat gelei het tot nuwe uitvindsels en nuwe masjinerie.
Moet nooit ophou leer nie. Moet nooit ophou om nuwe dinge aan te
pak nie. Kry hulp van raadgewers en mense wat weet hoe om jou by
te staan in jou proses van ontdekking en ontwikkeling van jou
vermoëns. Moenie tevrede wees met dit wat jy dink jy kan doen
nie – glo dat daar meer is. Daag jouself uit om meer te leer
selfs al is jy bang! Maak hierdie jaar jou jaar van ontginning –
jy sal verbaas wees as jy agterkom watter rykdom van "rou
materiale" God in jou bereik gestel het.