Die dag toe die
Here hoop geskep het, was waarskynlik
dieselfde dag waarop Hy die lente geskep het
- Bern Williams
Die lang winter is byna iets van die verlede
en die lente kom nou vinnig nader.
As Christene, weet ons dat God 'n God is vir
alle seisoene, maar ek moet darem erken dat
die lente vir my spesiaal is, omdat dit 'n
visie van nuwe lewe in my gedagtes optower.
U sal onthou dat ek in die laaste uitgawe
van die Woord vir Vandag geskryf het oor
Radiokansel se visie om die radiostasie te
herbou sodat dit 'n steeds groter bydrae kan
maak in 'n tyd van dinamiese herlewing in
ons land. Hierdie visie is dan ook bevestig
deur 'n aantal betekenisvolle gebeure oor
die laaste paar maande, waaroor ek graag
rapporteer:
Die Assosiasie vir Christelike Uitsaaiers
het in Maart vanjaar die Kenneth Copeland
Trofee vir gemeenskapsbetrokkenheid aan ons
toegeken. Hierdie toekenning is ter
erkenning van Radiokansel se jare lange
bydrae tot opheffing van ons gemeenskappe,
nie net deur ons landswye opheffingsprojekte
nie, maar ook deur ons opheffende
radioprogramme en ander dienste aan die
mense van ons land.
In Mei het ek bekend gemaak dat Radiokansel
die uitsaai-owerheid (Okosa) se besluit om
slegs 'n gedeeltelike lisensie aan ons toe
te ken, in die hof gaan betwis. Ons het
intussen 'n aansoek tot die Hooggeregshof
gebring om Okosa se besluit te hersien, en
het goeie rede om te glo dat die aansoek
suksesvol sal wees.
Terselfdertyd het ons die Hof versoek om 'n
tussentydse bevel uit te reik, wat aan ons
toestemming sal verleen om 'n bestaande
mediumgolf sender in die Wes-Kaap (AM 729
kHz) te gebruik vir ons uitsendings. Met
hierdie sender behoort ons nog sowat 200 000
van ons bewese luisteraars te kan bereik.
Ons sien hierdie verwikkelinge as
gedeeltelike vervulling van die visie om
Radiokansel te herbou en ons gaan beslis
voort met ons pogings om 'n nasionale
uitsaaigebied te verkry. Bid asseblief saam
met ons daarvoor.