Die Christen &
Geld in hierdie moeilike Finansiële Tyd
deur Heinrich Kruger
Wie se geld is dit in elk geval?
Hoekom vra ek die vraag? Omdat dit nie duidelik is wanneer mens met
mense praat, van wie se geld hul praat nie. Meeste mense, selfs
Christene, glo dat die geld in hul sakke hul eie is, terwyl ek uit die
Bybel verstaan dat alles wat ons het aan God behoort.
As jy nie dieselfde glo nie, moet asseblief nie verder lees nie.
As die geld wat ons het, of nie het nie omdat ons alles geblaas het, aan
God behoort, plaas dit nie dan 'n geweldige verantwoordelikheid op ons
ten opsigte van die wyse waarop ons dit behoor te hanteer nie? Ek glo
dit doen. Eintlik maak dit ons rentmeesters van God se geld en daarom
moet ons daarmee werk soos wat die Eienaar wil hê ons moet.
Wat wil God hê moet ons met Sy geld doen? Weer eens, die wyse waarop ek
die Skrif verstaan, wil Hy hê dat ons die beste tien persent aan Sy
instelling, Sy liggaam op aarde, die Kerk, die Tempel gee – vir die
onderhoud en werk daarvan.
Dan wil Hy hê dat ons moet omsien na diegene wat nie so bevoorreg is
soos ons in materiële terme nie, op dieselfde manier as wat Hy na ons
omsien, wat maak dat ons meer bevoorreg is as ander.
Uiteindelik wil Hy hê dat ons vooruitstrewend moet wees met die geld wat
oor is, sodat dit sal vermeerder en ons nog meer van bogenoemde kan doen,
en dit waarmee Hy ons seën, kan geniet tot Sy eer.
Onthou, ons kan nie aan God gee met die doel om meer te kry nie, omdat
ons eerstens van Hom ontvang, dit dan hanteer volgens Sy wil, en dit dan
teruggee aan Hom en Sy mense, en ook na onsself daarmee omsien. In
Maleagi 3 vanaf vers 8 tot 10 lees ons: "Mag 'n mens God beroof? Want
julle beroof My, en julle sê: 'Waarin het ons U beroof?' In die tiendes
en die offergawe. Met die vloek is julle belaai, en tog beroof julle My,
julle, die hele nasie! Bring die hele tiende na die skathuis, sodat daar
spys in my huis kan wees; en beproef My tog hierin, sê die Here van die
leërskare, of Ek vir julle nie die vensters van die hemel sal oopmaak en
op julle 'n oorvloedige seën sal uitstort nie."