Luister aanlyn
Luister op DStv
Luister op jou selfoon
Volg ons op Facebook
 
Glo jy in God?
Hy glo ook in jou... deur Roland Gaspar

Ons spandeer baie tyd om oor die belangrikheid van geloof en ons vertroue op God te praat, maar vandag wil ek graag 'n ander vraag vra: Is jy daarvan bewus dat God in jou glo? Ek is nie hier besig om 'n vreemde dogma te verkondig nie, maar wel die feit dat God jou nie net liefhet nie, maar dat Hy ook van jou hou, jou geniet, vir jou net die beste wil hê en glo in jou vermoë om 'n uitsonderlike lewe te lei!

As God jou so lief het en jou soveel respekteer, het die tyd dalk aangebreek om jou opinie oor jouself in lyn te bring met God se opinie oor jou. Elke mens het 'n "selfbeeld" wat die fundamentele stoorkamer is van dit wat hy/sy oor homself/haarself waarneem en van hom – of haarself dink. Let op dat ek dit die oënskynlike waarde, en nie die werklike waarde nie, noem. Dinge wat ons hoor of ervaar, kan die manier waarop ons oor onsself dink, affekteer. Die probleem ontstaan wanneer ons glo dat dinge wat met ons in die verlede gebeur het, ons nutteloos en waardeloos maak. As God ons waardig geag het om Sy liefde te ontvang, dan sou dit dom van ons wees om dit in twyfel te trek. Tog raak ons dikwels moedeloos en verval in die versoeking om toe te gee aan hierdie aftakelende emosies.

'n Motor het 'n brandstoftenk, maar kan net funksioneer as daar wel brandstof in die tenk is. Die werkverrigting van die motor hang ook af van die gehalte van die brandstof. As die brandstof van 'n Formule 1 motor onvoldoende of van lae gehalte is, sal die motor, ten spyte van sy gevorderde tegnologiese onderbou, maar taamlik nutteloos wees. So ook, sal al ons talente en potensiaal nie tot volle wasdom kom, as ons selfbeeld swak, of ons selfrespek onvoldoende is nie.

Die meeste van ons se ID-foto’s is maar taamlik onvleiend. Alhoewel die foto 'n beeld van jou is, is dit nie 'n refleksie van hoe jy altyd daar uitsien nie. Dit is 'n beeld van ons op 'n bepaalde oomblik (gewoonlik 'n gejaagde oomblik) op 'n bepaalde dag. So ook is baie van die gevoelens van mislukking of skaamte binne-in ons, gekoppel aan 'n sekere ervaring of 'n spesifieke tydperk in ons lewe. Dit is deel van ons ervaringswêreld en dit kan 'n probleem word wanneer ons toelaat dat hierdie emosies ons lewe totaal oorheers en veroorsaak dat hulle deursypel en ons ganse bestaan begin oorheers. Hierdie emosies hoef en mag nie ons gevoel van selfwaarde beïnvloed nie!

Selfs ons mislukkings kan ons herinner aan die goeie dinge wat God in ons ingebou het – jou slegste dag in die jaar, waar jy op jou laagste voel, moet vir jou 'n aanduiding wees van die sukses wat jy in die ander 364 dae behaal het! As jy suksesvol was en God se hoë standaarde al die ander dae kon handhaaf, mag die een dag jou nie ontmoedig nie!

Die punt is, ons moet begin om onsself lief te hê. Dit beteken dat ons moet bou en werk aan ons selfbeeld en selfwaarde – dit beteken egter nie dat ons arrogant en behep met onsself moet wees nie, maar dit is noodsaaklik dat ons one eiedunk moet verhoog deur die krag en genade van God.

As God reken dat ons tot veel in staat is, het die tyd aangebreek dat ons Hom op Sy Woord moet neem – ons dien 'n groot Skepper wat elkeen van ons as 'n unieke maaksel geskape het, naamlik na Sy Beeld.

 

Gaan Na
Belê in die Koninkrykswerk van God
Kontak Kliëntediens
Opdateer jou luisteraar- / kliëntinligting
Ander maatskappye wat met Radiokanse ge-assosieer word
Adverteer op die lug of aanlyn
Radiokansel Beradingsdiens
Gaan na ons aanlyn inkopie winkel
Vertroulikheidsbeleid/Bepalinge & Voorwaardes     Radiokansel © 2011. Alle regte voorbehou