Luister aanlyn
Luister op DStv
Luister op jou selfoon
Volg ons op Facebook
 
Die Vredesformule
deur Roland Gaspar

In die inligtingsera, war ons daagliks oorlaai word met inligting uit soveel oorde, wil ons dinge dikwels eers verstaan voordat ons dit as feite kan aanvaar. Deur die jare het ek tot die insig gekom dat die kragtigste en magtigste geloofsake gewoonlik die sake is wat ons nie kan bewys met Wiskunde en Wetenskap nie. Dit is dalk juis hoekom God se Woord oorloop van metafore – woordprentjies – wat ons lesse leer oor die lewe en geloof. Die beste manier om hemelse dinge op ons aardse maniere te kan verstaan, is sekerlik deur middel van beelde en metafore, eerder as grafieke en syfers.

'n Tydjie gelede het ek 'n kursus aangebied, en een van die onderwerpe vir bespreking was risikobestuur. Hoewel risikobestuur nie 'n presiese wetenskap is nie, bevat dit wel formules as riglyne om te bepaal of iets 'n risiko is en hoe groot die risiko kan wees. Wiskundiges het met 'n formule opgekom om hierdie faktore aan te dui. Dit het my laat wonder hoe 'n wiskundige formule, wat geestelike kwessies kon illustreer, daar sou uitsien:

Dit het my uitgebring by 'n "vredesformule" wat soos volg uitgedruk kan word:

Vrede = Geloof X Geduld

Wanneer ons geloof het, glo ons onwrikbaar dat God die beste in die lewe vir ons gun en dat Hy, in sy almag, vir ons sal voorsien en vir ons die nodige deurbrake sal stuur. Ons glo dat alles ten goede sal meewerk vir die wat Hom liefhet (Romeine 8:28), ten spyte daarvan dat ons nie altyd verstaan presies hoe nie. Wanneer ons geduld het, begryp ons dat God dinge op sy perfekte tyd doen (Prediker 7:8) en ons kies om Hom te vertrou, selfs wanneer dinge nie presies uitwerk wanneer ons dink dit moet nie.

Wanneer ons glo dat God vir ons sal intree, en die geloof vermenigvuldig met 'n bereidheid om te vertrou dat sy tydsberekening perfek is, kan ons ophou fokus op ons stres, en ophou om aardse sukses na te jaag. Die bereidheid om God te vertrou en op Hom te wag, vermenigvuldig met geloof, bied vir ons die vrede wat alle verstand te bowe gaan. In God werk alle dinge ten goede mee, maar ons kan kies hoe ons gaan optree in die tussenfases. Gaan jy 'n lewe van stres en oorlading leef, of kies jy om jou geloof met jou geduld te vermenigvuldig om sodoende die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan, te ontvang (Filippense 4:7)? Die keuse lê by jou.

 

Gaan Na
Belê in die Koninkrykswerk van God
Kontak Kliëntediens
Opdateer jou luisteraar- / kliëntinligting
Ander maatskappye wat met Radiokanse ge-assosieer word
Adverteer op die lug of aanlyn
Radiokansel Beradingsdiens
Gaan na ons aanlyn inkopie winkel
Vertroulikheidsbeleid/Bepalinge & Voorwaardes     Radiokansel © 2011. Alle regte voorbehou