'n Baba op sy ma se skoot kriewel onrustig as hy melk soek. Ons jaag
partykeer ook onrustig om doelwitte te bereik, angstig om meer geld te
maak, koorsagtig om genot te gryp!
Dawid, wat Psalm 131 geskryf het, het groot druk ervaar: die rumoer van
oorlog, die woede-uitbarstings van Saul, die vloeke van Simei. Tog het
hy innerlike vrede gehad te midde van sy traumas, pyn en sweet. Hy was
soos 'n gespeende kind, rustig op sy ma se skoot.
Begeertes na groot dinge – 'n groot inkomste, respek, erkenning, beheer
– maak 'n mens onrustig, gestres, geïrriteerd of terneergedruk.
Jesus Christus het die onrus van hierdie wêreld betree en vir ons ware
vrede kom verdien: Hy het ons sondeskuld op Hom geneem; in ons plek die
grootste angs denkbaar verduur toe God Hom verlaat het! So het Hy
Vaderarms verdien om ons vas te druk; 'n Vaderskoot waarop ons kan sit!
Ons verterende begeertes is reeds saam met Jesus gekruisig. Vra die
Heilige Gees om jou vry te maak van daardie begeertes wat jou verslaaf.
Maak jou tuis op jou Vader se skoot. Wees vergenoeg met Sy beloftes, Sy
sorg, Sy leiding.
Radiokansel se
beradingsdiens word bestuur deur die Assosiasie vir Bybelse Berading en
Opleiding (ABBO), wat jaarliks kursusse in Bybelse berading aanbied. Vir
meer inligting, skakel (011) 886-7414 of besoek
www.abbo.org.za.