Daar is tye in almal van ons se lewens
wanneer die druk en stres net een te veel
word. Miskien het jy al iemand hoor sê:
"Stop die wêreld, ek wil afklim!" Miskien
was jy die persoon wat dit gesê het!
Teen hierdie tyd van die jaar begin meeste
van ons die uitwerking van al die maande se
werk en stres wat opgehoop het, voel. 'n
Mens voel maklik oorweldig deur die
langtermyn effek van stres, veral as daar 'n
langdurige stryd met jou gesondheid was, of
'n verhouding wat in die moeilikheid is, of
as mens oor die dood van 'n geliefde treur,
of as jy finansiële druk ondervind.
Wens jy nie dat al hierdie hartseer, pyn,
stres en bekommernis meteens kan ophou en
dan heeltemal verdwyn nie? Jy is natuurlik
nie alleen as jy so wens nie, almal van ons
ervaar dit maar een of ander tyd.
Jy kan jou stresvolle omstandighede vergelyk
met 'n liedjie wat vanaf 'n kasset of CD
speel. Jy kan miskien nie die klank
heeltemal laat ophou nie, maar verbeel jou
dat jy 'n afstandbeheer het en die
pousekontrole kan druk – die resultaat sal
'n rukkie van vrede en stilte wees, en jy
hoef nie langer na die hartseer klanke te
luister nie.
Die sleutel van hierdie "pouse" is om die
tyd te gebruik om jouself te forseer om NIE
aan die situasie te dink nie, maar jou
gedagtes te laat gaan na waar jy rustig en
gelukkig was. Dink terug aan 'n plek waar jy
in die verlede vreugde ondervind en pret
gehad het. Dis ideaal om 'n herinnering te
vind wat geen hartseer sal terugbring nie.
Byvoorbeeld: as jy nou net deur 'n
egskeiding moes gaan, sal dit nie veel help
om aan jou troudag te dink nie, want jy sal
die hartseer daarna onthou. Vind dus eerder
iets lig, vrolik en prettig. Dit kan
eenvoudig wees: byvoorbeeld die lekkerste
hamburger wat jy as kind geëet het. As daar
geen gelukkige herinneringe is nie, LEEN
vreugde iewers. Dink hoe jy daarvan sou hou
om op die maan te stap, 'n wandeling in die
wonderlike natuurskoon te onderneem, of 'n
balletdanseres te wees wat op die maat van
wonderskone musiek dans. Voel die emosie,
haal diep asem en onthou dan dat God hierdie
vreugde en vrede vir jou toewens.
Baie van ons ken die teks van Filippense
4:6-7, "Moet oor niks bekommerd wees nie,
maar bid oor alles. Vra alles wat julle
nodig het van God, terwyl julle Hom ook dank
vir alles wat Hy doen. As julle so bid, sal
julle God se vrede beleef. Hierdie vrede is
wonderliker as wat 'n mens ooit kan dink.
Omdat julle aan Christus behoort, sal die
vrede van God julle harte en gedagtes soos
'n veiligheidswag oppas."
Ons ken die krag van gebed en smeking
wanneer ons moeilike tye beleef. Die bekende
Filippense 4 vers 4 lui so, "Wees altyd bly
omdat julle weet dat julle aan die Here
behoort. Ek sê dit weer: 'Wees bly!'" Ons
word aangespoor om ten spyte van alles bly
te wees; bly omdat ons aan die Here behoort.
Daar is heelwat teksverse wat ons aanspoor
om op die goeie en die "geestelike" te fokus.
Dis egter baie moeilik om dit te doen
wanneer jy "deur 'n dal van doodskaduwee"
gaan. Beskou jou eie omstandighede: is jy
moeg, jou hart loodswaar in jou bors?
Miskien het jy te lank na die "musiek" van
stres, hartseer of pyn geluister. Jy het
dalk reeds baie oor die saak gebid, soos
Filippense 4:6-7 sê, maar jy is nog steeds
terneergedruk en moedeloos. Waarom druk jy
nie nou daardie "pousekontrole" om die
musiek van jou omstandighede tydelik te
staak nie. Dit sal aan jou die tyd gee om
jou gemoed weer helder te maak en jou geluk
en vrede te herwin. So 'n stille oomblik in
die teenwoordigheid van God, kan aan jou
hernude krag vir die lewensreis gee. Druk
die pousekontrole vandag nog!