|
31 Augustus
2010
Die pogings van
Radiokansel en die Onafhanklike Kommunikasie
Owerheid van Suid-Afrika (OKOSA) om die
geskil oor 'n uitsaailisensie vir 'n
mediumgolf sender in die Wes-Kaap buite die
hof te skik, het ongelukkig op niks
uitgeloop nie en dus sal Radiokansel
voortgaan met die hofsaak op 6 en 7
September 2010.
Radiokansel het op die 7de Mei 2009 'n
hersieningsaansoek by die Hooggeregshof
ingedien om die beslissing van OKOSA te
hersien.
Nadat die gemelde aansoek aan OKOSA beteken
is, het OKOSA op die 15de Julie 2009 met 'n
aanbod vorendag gekom om 'n proses in
werking te stel om die aangeleentheid buite
die hof te skik.
Verskeie pogings deur Radiokansel om die
skikkingsproses op dreef te kry is
deurlopend deur OKOSA in die wiele gery en
het meegebring dat Radiokansel tot die
gevolgtrekking gekom het, dat OKOSA nie in
goedertrou optree nie en dat die saak
gevolglik, eerder formeel in die
hooggeregshof opgelos moet word.
Die hersieningsaansoek van Radiokansel
handel met verskeie feite vir hersiening met
spesifieke verwysing na die beleid van OKOSA
dat Gemeenskapsuitsaaiers geografies gebonde
moet wees met hul uitsendings.
Dit word gehoop dat hierdie voortslepende
dispuut oor die Wes-Kaapse sender op die 6de
en 7de September opgelos sal word, wanneer
Radiokansel OKOSA voor die hof daag oor,
onder andere, sy volharding met sy
verklaarde beleid dat die betrokke
mediumgolf sender vir kommersiële gebruik
geklassifiseer is.
Radiokansel het ten volle saamgewerk en elke
moontlike opsie uitgeput, maar op die
uiteinde is dit duidelik dat ‘n aansoek om
hersiening in die Hooggeregshof die enigste
lewensvatbare opsie is.
Radiokansel wil graag sy lojale luisteraars
van harte bedank vir hulle ondersteuning en
vra vir opregte voorbidding dat hierdie
hofsaak ‘n positiewe resultaat sal oplewer.
|