Beradingsinligting

Die missie van die Beradingsdiens van Kansel Media Groep is om 'n reisgenoot te wees vir die kliënte van Radiokansel en Radio Kaapse Kansel in hulle soeke na sinvolheid. Ons doel is om die Blye Boodskap aan persone te bedien sodat hulle prakties in 'n lewende verhouding met God kan lewe.

Kansel Media Groep het vir ABBO (Assosiasie vir Bybelse Berading en Opleiding) gekontrakteer om die beradingsdiens te bestuur en te bedryf. Hierdie samewerking het in 2006 begin en blyk uiters vrugbaar te wees. Vir inligting oor ABBO se beradingskursusse in Bybelse Berading, kliek hier.

Die beradingsdiens doen gratis krisis- en/of oorbruggingsberading deur middel van telefoon-gesprekke, briewe per epos/slakkepos, SMS en een-tot-een-gesprekke in ons kantoor. Vir langtermyn, intensiewe berading en hulp word persone verwys na Bybelse beraders en/of ander spesialis-hulpverleners. Vir inligting oor ons verwysingslys, kliek hier.

Ons berading is gefundeer op die Bybel. Die oorbruggingsberaders word opgelei om diegene wat inskakel of e-pos/skryf, 'n geleentheid te gee om oor hulle probleme te praat en om toepaslik bedien te word.

Tans werk hier 27 beraders vrywillig en sonder vergoeding 24 uur per dag, 7 dae per week. Daar word maandeliks ongeveer 300 telefoonoproepe en 100 e-posse/briewe hanteer. Gemiddeld 35 persone word maandeliks teruggebel en om en by 30 inbellers ontvang elk 'n bemoedigings-SMS van ons.

Ons ontvang ook maandeliks ongeveer 380 gebedsversoeke wat deurgegee word na ons gebedsgenote - 'n groep mense wat landswyd voorbidding doen.

Ons bedien ook jongmense via WhatsApp - daar is ongeveer 130 interaksies per maand.

Vir kliënte van Radio Kaapse Kansel is daar 'n plaaslike nommer beskikbaar, naamlik 021 917 7000.

Al die beradingstemas word weekliks geklassifiseer en toepaslike voorstelle oor onderwerpe en sprekers word op grond daarvan aan die department Radio gemaak vir die saamstel van relevante radioprogramme.

U word uitgenooi om ons beradingsdiens te skakel by (012) 334-1320, WhatsApp by 0769619749 of 'n e-pos te stuur na berading@radiokansel.co.za, of 'n brief te pos aan Berading, Posbus 3436, PRETORIA, 0001. Die selfoonnommer vir SMS-berading vir die jeug is 071 679 4302.

sl-001
sl-002
sl-003
sl-004
sl-005
sl-006