Wag op die Here met Vertroue en Harde Werk

Deur Vorster Combrink

Ps 126

Êrens in die suide van Palestina stap daar 'n man deur sy lappie omgeploegde land. Die woestyngrond lê droog en kaal. Hy dra 'n sak met graansaad op sy rug. Sy saadkorrels val op die grond; ook sweet- en traandruppels. Hy kry swaar. Hoe lank sal hy moet wag voor dit reën?

Die man van Psalm 126 is een van die ballinge uit Babel wat na 70 jaar teruggekeer het na die slegte omstandighede in Palestina: droogte, armoede en harde werk om die land weer op te bou. Die boer wonder miskien: Sal daar 'n oes wees? Het ons 'n toekoms?

Ons kan ons met hom vereenselwig, want die land waardeur ons elke dag stap, lyk ook nie goed nie: mense wat aangerand en vermoor word; kinders wat afgeskeep/misbruik word; swak leierskap en swak dienslewering wat gemeenskappe.

Wat het die boer van Ps 126 gedoen? Hy sug by die HERE. Hy wag op die HERE wat vroeë en laat reëns gee (Jak 5:7). Sy geloofsoë sien reënbuie wat uitsak; 'n groen koringland in die woestyn; gerwe in die skuur. Hy glo die Here se wonderwerk het reeds begin: Hy het sy volk uit die graf van die ballingskap opgewek. Die nasies was verstom! Juda het gejubel: "Die HERE het groot dinge aan ons gedoen!"

Die HERE stap saam met ons. Die Saaier kom buk onder my saaisak in (Matt 13). En terwyl Hy saai, loop sy trane oor die ongeloof van Jerusalem. Hy saai Homself in ons plek en staan op in heerlikheid: die Eersteling van God se oes! (1 Kor. 15:20).

Die Saaier se Gees inspireer ons om op Hom te wag, nie deur agteroor te sit nie, maar deur sy Woord te saai - met ons lewe, woorde en liefde - getrou op ons pos tot Hy kom (Mark 13:32-37). Al doen ons ons werk soms met rouklere aan (Op 11:3), ons werk in die HERE is nie tevergeefs nie. Die Saaier sal sy oes met gejubel insamel!

Hoe wag jy op die Here?

sl-001
sl-002
sl-003
sl-004
sl-005
sl-006