Branders ... Verleenthede of Geleenthede?

Jy kan toelaat dat 'n brander van die see jou onderstebo slaan, of jy kan die krag en spoed van die brander benut om hom te ry.

Die lewe is vol branders. Dit het Radiokansel die afgelope tyd beleef toe die FM-uitsaaityd weggeneem is. Wat na 'n verleentheid gelyk het, het egter 'n geleentheid geword om die evangelie met die nuutste digitale mediumgolftegniek te kan uitsaai. Soos met Paulus eeue gelede: Juis sy boeie het hom ruimte gegee om die invloedryke lyfwag van die keiser te bedien en die hart van die Romeinse Ryk te rysmier (2 Timoteus 2:9)!

Soms is dinge in ons omgewing baie positief: Jy begin met 'n nuwe en uitdagende bediening of beroep; 'n baba word gebore; of jy word deel van 'n dinamiese en liefdevolle gemeente.

Maar soms sit jou omgewing groot en negatiewe druk op jou: Jy word siek; 'n geliefde sterf; jy word onregverdig behandel by die werk; jy vind uit jou huweliksmaat het 'n verhouding met iemand anders.

Die Bybel vertel dat omstandighede soms baie moeilik is, ook vir God se kinders: Adam word uit die paradys geban na 'n vervloekte aarde; Abram trek uit sy veilige familiekring in Haran na die onbekende en gevaarlike Kanaän; die skatryk Job word in een dag kinderloos en bankrot; Israel gaan in ballingskap; Jesus moet op Golgotha die hel trotseer.

Wat maak 'n mens as jou omstandighede ongunstig geword het? Soms is dit moontlik om jou omstandighede te verander: Jy kan van skool of werk verander; 'n verhouding beëindig; sekere plekke of geselskap vermy.

Soms kan jy egter nie jou omgewing verander nie: Jy kan nie jou ouers of huweliksmaat verruil nie; jy kan nie jou genetiese samestelling totaal verander nie; jy kan nie jou baas of kollegas verplaas nie.

Jy het egter 'n keuse hoe jy die branders van die lewe gaan benader en hanteer. Jou situasie kan vir jou 'n verleentheid wees ... of 'n geleentheid!

Wanneer is my situasie 'n verleentheid? As ek myself sien as 'n slagoffer daarvan; as ek dink my geluk hang af van hoe ander mense my behandel; as ek bitter word oor hoe my lewensmaat is en my behandel; as ek mense wat my uitbuit of beroof, begin haat! Dan het ek 'n verleentheid geword vir die koninkryk van God!

Wanneer is my situasie 'n geleentheid? As ek bereid is om self te verander; nuut te dink oor God; te sien dat God die situasie tot voordeel van sy koninkryk wil gebruik; as ek glo dat Hy die slegte omstandighede tot my voordeel wil gebruik; as ek my omstandighede as 'n uitdaging sien; as ek kreatief deur die krag van die Heilige Gees met liefde my situasie beïnvloed.

My omstandighede is 'n verleentheid as ek verkeerd dink, begin stres, depressief raak, moed en hoop verloor.

My omstandighede is 'n geleentheid as ek in my pyn en nood na God roep, met God die vyand stormloop, met Hom oor die muur spring, getrou my roeping bly vervul.

Hoe sien jy die brander: as 'n verleentheid ... of 'n geleentheid!

Vorster Combrink

 

sl-001
sl-002
sl-003
sl-004
sl-005
sl-006