God is by my in my trauma

Ons as Suid-Afrikaners ly daagliks onder geweld, misdaad, armoede, korrupsie ...

Dawid vertel ons in Psalm 22 hoe hy deur sy vyande seergemaak is. Hulle het hom verbaal en fisies aangeval en God gelaster. Hoe het hy sy trauma hanteer?

In sy skok en ontsteltenis het hy gevlug. Hy het dodelik moeg en siek geword en was op die punt om te sterf. In sy depressie het hy gedink: Hierdie mense het die mag om my te vernietig; ek is soos ’n wurm: magteloos, onveilig, waardeloos, hopeloos; en God is afwesig.

Die Gees van God het Dawid egter verseker: God is die lewende, betroubare, betrokke, almagtige Verbondsgod! Hy gee om, luister, help en verlos! Die Heilige Gees het sy gedagtes vernuwe: "God is by my in my nood!"

Waarom was die Here by Dawid? Daar is net een rede: Weens die Seun van Dawid!  Dawid se trauma en Jesus se trauma is twee parallelle lyne wat soms kruis. Tog is die  lyding van Jesus ook uniek. Dit oortref en verswelg die swaarkry van Dawid.

Jesus is intens gedruk deur mense en Satan. Sy grootste druk was egter aan die kruis toe God Hom intensief en volledig gestraf het vir vir die sondes van die gelowiges. Aan die kruis het Hy nie bloot verlate GEVOEL van God nie ... Hy IS deur God verlaat. Hy het die harde werklikheid van die hel trotseer: geestelike en liggaamlike dood! Hy het egter die dood, sonde, Satan en lyding oorwin omdat Hyself ook God is.

As ek Jesus Christus as my Plaasvervanger erken, word ek verlos van die trauma van die hel, van die vyandskap van God. Ek kan verseker wees van God se vriendelike teenwoordigheid by my in 'n vyandige wêreld, van sy liefdevolle sorg wanneer ek  aangeval en beroof word, as 'n geliefde van my sterf, as ek in 'n motorbotsing is, as mense my verwerp, as ek geldelike en huislike probleme ondervind. My trauma is deel van God se goeie plan vir my groei in geloof, hoop en liefde!

Vorster Combrink  (Bestuurder Berading)

sl-001
sl-002
sl-003
sl-004
sl-005
sl-006