God se bril ... My bril

God kyk ...
As God na sy kinders kyk, sien Hy dat ons lelik is: sondig, stukkend, oud. Eintlik maak ons sy oë seer, en daarom sit Hy 'n bril op, sodat ons sagter op sy oë is.

Sy bril is Jesus Christus, en deur dié Lens sien Hy dat ek toegemaak is met die bloed van sy Seun, en aangetrek is met sy volmaaktheid. Hy sien 'n núwe mens! Iemand wat aan Christus behoort, is ‘n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom! (2 Kor 5:17)

Voor Hom het ek ‘n nuwe posisie en identiteit: nie meer dood nie, maar wedergebore; nie meer  veroordeel nie, maar verskoon; nie meer 'n slaaf van die sonde nie, maar in staat om Hom te dien.

Ek kyk ...
Soos God, moet ek reg kyk na mense. Ek en my huweliksmaat, my kinders, ouers, werkgewer is sondig en tog verlos, onvolmaak en tog aanvaarbaar in Christus.

'n Vals bril verdraai jou siening van jouself en ander mense: "Jy is OK nes jy is". Hierdie leuen maak Jesus Christus en die Heilige Gees oorbodig.

As ek ander beoordeel met Jesus as maatstaf, sal ek ook soos Jesus optree teenoor mede-sondaars: regverdig, eerlik; en met liefde, vergifnis, ontferming, vertroue en respek - nie met wantroue, jaloesie, agterdog, bitterheid, skinder of disrespek nie. Al verskil ek van iemand se standpunt en optrede, kyk ek na haar/hom met liefde, geloof en hoop!

Vorster Combrink (Bestuurder Berading)

sl-001
sl-002
sl-003
sl-004
sl-005
sl-006