Hartseer, en tog bly!

Die Christenvrou dreunsing hartseer terwyl sy die huis skoonmaak, wasgoed was, koskook. Haar dogter is verlede week begrawe. Maar in haar stem is daar ook ander emosies: dankbaarheid, selfs blydskap!

Gewoonlik pas hartseer en blydskap nie by mekaar nie: Jy's òf hartseer, òf  bly. Daars 'n tyd en plek vir elkeen (Pred 3:4), soos huil in die nag en bly wees in die oggend (Ps 30:6), saai met trane en oes met vreugde (Ps 126:6).

Tog is hartseer en blydskap ook geyktydig daar: blydskap wat met die hartseer stoei  en telkens die oorhand kry; blydskap wat die botoon voer (Pred 3:12; 5:17-19; 8:15); blydskap wat die hartseer uiteindelik toemaak (1 Pet 1:9).

Kan 'n mens tegelyk huil en lag? Ja, dis moontlik want Jesus Christus is tegelykertyd die Dienaar wat ly (Jes 53) en die Koning wat oorwin (Op 1:13-18). Hy het die hartseer van ons sonde, skuld en pyn volledig gedra en oorwin. Sy Gees gee ons blydskap in die Here.

Gelowiges se lewensskildery het swart en grys kleure in, maar die hoofkleur is wit (Pred 9:7-10). Gelowiges trek soms krom van die pyn, maar kom altyd weer orent (2 Kor 4:9). Gelowiges vergaan aan die buitekant, maar binnekant is daar 'n vernuwing (2 Kor 4:16). Gelowiges dra hulle kruis (Mark 8:34), en sing:

Al sou die vyeboom nie bot nie ...nogtans sal ek in die Here jubel, sal ek juig in God, my Redder (Hab 3:17-18).

Vorster Combrink (Bestuurder Beradingsdiens)

 

 

sl-001
sl-002
sl-003
sl-004
sl-005
sl-006