Jy kan die wenstreep oorsteek!

Heb 11-12:1-2; 1 Kor 9:24; 2 Tim 2:5; 4:7

Het jy ook al gewonder: Gaan ek my wedloop in God se koninkryk ooit klaarmaak? Daar's so baie goed wat wil keer dat ons op ons roeping fokus, naamlik die satan, die wêreld en ons eie hoogmoed. Die geloofsmaraton is  straf en jy mag swaarkry en moeg en moedeloos word, maar die Here verseker ons: Jy sal klaarmaak!

Die antieke Griekse atleet het deeglik voorsorg getref dat hy die wedloop in die Olimpiese Spele kon voltooi. Hy't  "gestrip", ontslae geraak van die swaar soldate-uitrusting of die lang rok wat hom kon pootjie, ja selfs die laaste stukkie onderklere moes waai! Watter gesindhede, oortuigings en gewoontes moet weg uit jou lewe?  Watter loodswaar leuens dra jy oral saam met jou?

God verseker dat jy dit kan maak, want Jesus Christus het (plaasvervangend) klaargemaak; die skare gelowiges (martelare) wat klaargemaak het, spoor ons aan; die Heilige Gees help ons elke tree; daar wag 'n medalje vir die klaarmaker!

Sal jy kan aanhou en uithou en klaarmaak? Ja, as jy aanhoudend jou gedagtes en lewe op Jesus Christus rig (Rom 12:2; Kol 3:2). Saam met Hom bereik jy die wenstreep (Fil 1:6).

Vorster Combrink (Bestuurder Beradingsdiens)

sl-001
sl-002
sl-003
sl-004
sl-005
sl-006