Verloor met mensevrees ... Wen met Godsvertroue

Numerie 13 & 14:1-24

Waarvoor roep die Here jou in 2011? Hoe gaan jy daardie moeilike mense wat jou seermaak, hanteer? Watter dowwe kolle in jou huwelik moet jy aanspreek? Watter gedagtes, begeertes en gewoontes moet jy verander? Hoe gaan jy jou vrese vir verwerping, mislukking en seerkry oorwin? Watter wapens het jy nodig vir die geveg teen die reuse op jou pad?

Tien van die manne wat Kanaän verken het, besluit: Nooit! Die reuse gaan ons soos sprinkane plat trap! Twee, Josua en Kaleb, besluit: God is groter as sy en ons vyande. Kom ons vat hulle aan in sy Naam en in sy krag!

Tien vrees mense. Twee glo die waarheid, sien God reg en vertrou Hom: "Moenie vir die mense van die land bang wees nie. Die HERE is by ons" (Num 14:9).

God straf ongeloof: Die 10 verkenners sterf dadelik deur 'n plaag. En almal ouer as 20 moes vir 40 jaar in die woestyn rondtrek en sterf uiteindelik sonder om by die rusplek uit te kom wat God aan hulle wou gee  (Psalm 95).

Ons grootste stryd lê teen die ongeloof in ons eie harte. Ons grootste roeping is om op Jesus (= Josua = Redder = Oorwinnaar) te fokus.

Laat ons nie verlam word deur mensevrees nie, maar geinspireer word deur Godsvertroue: "Laat ons ons dan beywer om in die rus in te gaan, sodat niemand hulle voorbeeld van ongehoorsaamheid navolg en ook omkom nie" (Heb 4:11).

Vorster Combrink (Bestuurder Beradingsdiens)

sl-001
sl-002
sl-003
sl-004
sl-005
sl-006