Moedeloos... Hoopvol

Romeine 8:18-30

Romeine 8 stel ons langs 'n kraambed. Dis ongetwyfeld  'n plek van swaarkry. Maar as die babatjie gebore is, maak die swaarkry plek vir blydskap.  Die hele  skepping is in kraam, ook ons as gelowiges: Ons kry swaar in ons verhoudinge in ons huwelike of gesinne, of ons ly agv siekte, ouderdom, moegheid, gestremdheid, werkloosheid, onreg, geweld ...

Hoe hanteer ons ons lyding? Ons hanteer dit nie as supermense nie, want ons is sondig, swak en verganklik. As ons platgeslaan word, kan ons teleurgesteld raak  in onsself en ander mense. Ons besef al hoe meer dat ons nie met ons verstand en ons ekonomiese en politieke planne 'n utopia kan skep nie.  Ons bly jaar-in en jaar-uit worstel met ons eie liefdeloosheid, armoede,  geweld en vernieling van die natuur.  Hierdie besef  kan ons erg moedeloos en wanhopig maak.

In ons swaarkry verstel die Heilige Gees ons geloofslense.  Hy help ons om op Jesus Christus te fokus, die Eersgeborene uit die dood, God se nuwe Kind. Ons weet al hoe duideliker: Jesus Christus het ons verdorwenheid en swakheid en op Hom geneem, ons skuld aan die kruis gedra en opgestaan in heerlikheid!

Ons geloofsoë registreer dat die skepping  nie op 'n sterfbed is nie,  maar op 'n  kraambed.  Die  ou skepping  se sugte en kraampyne  is 'n voorspel tot die geboorte van 'n nuwe skepping.

Ons sug, kreun, huil onder die las wat ons dra. Maar ons  sug nie in wanhoop nie, maar met hoop. Vol verwagting  roep ons na God, na uitkoms vir nou ... maar ons  roep veral na die finale en totale herskepping en verheerliking.  Dit sal gebeur, want die Heilige Gees sug saam met ons volgens die wil van God!

Dr Vorster Combrink  (Bestuurder Berading)

sl-001
sl-002
sl-003
sl-004
sl-005
sl-006