Ons radikale God het radikale kinders

Mark 9:43-48

Radikale probleem:  Die sonde van ons hart en lewe is erg en mag nie geignoreer, versag, verbloem, versuiker, verskoon, verplaas of regverdig word nie. Sonde is haat teen God en my naaste. Dis 'n messteek in God se hart. Dis minagting en rebellie. En dis gevaarlik ... soos 'n dodelike slagyster!

Radikale oplossing: God vervang sondaars, rebelle en vyande met sy radikaal volmaak gehoorsame Kind. Jesus het sy Vader en sy naaste perfek en radikaal lief, soms onkonvensioneel en verrassend nuut, dikwels eenvoudig en gewoon. Dié geskikte Plaasvervanger word in sondaars se plek gestraf vir hulle sonde. Hy word volledig afgekap en uitgeruk, en opgewek. So word God radikaal deur sy Seun verheerlik!

Radikale keuse: Jesus Christus eis dat ek Hom erken as my Verlosser en Koning, en deur die geloof kry ek deel aan Hom: sy identiteit en sy plek by die Vader.

Radikale toewyding: Hierdie basiese beslissing moet opgevolg word deur 'n tree vir tree proses van detail verandering. Die Heilige Gees stroop en herbou my stukkie vir stukkie: my denke, my begeertes, my dade.

Radikale verset: My keuse vir Hom vereis 'n drastiese en intensiewe oorlog teen my sondige hart en gedrag: "As jou hand jou laat struikel, kap dit af! As jou voet jou laat struikel, kap dit af! En as jou oog jou laat struikel, ruk hom uit!"  As jou werk, of dagprogram, of godsdiens jou afgod geword het, vernietig dit! Stop jou liefdeloosheid, vrees, selfsug, twyfel, ongeduld, wellus, gierigheid en jaloesie! Sit die TV af as dit nodig is. Blok die pornografie op jou internet. Herorganiseer jou dagprogram.

Radikale hande: Was jou hande en reinig jou hart (Jak 4:8). Gee liefde en moenie jou naaste doodmaak met jou gedagtes, woorde en hande nie. Wees eerlik is en moenie ander se tyd en goed en voordeel steel nie.

Radikale voete: Moenie wandel in die raad van die goddelose of staan op die weg van die sondaars nie (Ps 1:1). Wandel met God (Ps 56:14). Gooi af die sonde en hardloop die wedloop (Heb 12:1).

Radikale oë: Moenie mislei word deur die rooi kleur van wyn nie (Spr 23:31-32). Moenie na 'n vrou (behalwe jou eie) kyk om haar te begeer nie (Matt 5:28). Moenie die wêreld begeer nie, maar God (1 Joh 2:16).

Radikale heerlikheid: Wie volhard tot die einde toe, wie weier om die  sonde te pamperlang,  sal gered word.  Wie die gesag van die Koning erken, sal verheerlik word (1 Pet 2:6; Joh 10:28).

Radikale ondergang:  Die bouer wat die kosbare Hoeksteen verwerp, sal oor Hom struikel, en in die ewige strik van God se oordeel beland. As jy toelaat dat die strome van die sonde jou in die diepsee  intrek, sal jy verdrink. As jy 'n giftige slang vertroetel, sal hy jou pik. As jy nie breek met ou mens nie, sal jy in die hel beland (1 Pet 2:7-8)

Vorster Combrink  (Bestuurder: Berading)

sl-001
sl-002
sl-003
sl-004
sl-005
sl-006