Vrede op God se skoot

'n Baba op sy ma se skoot kriewel onrustig as hy melk soek. Ons jaag partykeer ook onrustig om doelwitte te bereik, angstig om meer geld te maak, koorsagtig om genot te gryp!

Dawid, wat Psalm 131 geskryf het, het groot druk beleef: die rumoer van oorlog, die woede-uitbarstings van Saul, die vloeke van Simei. Tog het hy innerlike vrede gehad te midde van sy traumas, pyn en sweet. Hy is soos 'n gespeende kind, rustig op sy ma se skoot.

Begeertes na groot goed - 'n groot inkomste,  respek, erkenning, beheer - maak 'n mens onrustig, gestres, geïrriteerd of terneergedruk.

Jesus Christus het ware vrede vir ons kom verdien: Hy het in die onrus van hierdie lewe kom staan; ons sondeskuld op Hom geneem; in ons plek die grootste onrus denkbaar verduur toe God Hom verlaat het! So het Jesus vir ons Vaderarms verdien om ons vas te druk, 'n Vaderskoot om op te sit!

Ons verterende hoogmoed is reeds saam met Jesus gekruisig. Vra die Heilige Gees om jou vry te maak van begeertes wat jou wil oorheers Maak jou tuis op jou Vader se skoot. Wees vergenoeg met sy beloftes, sy sorg, sy leiding.

Vorster Combrink (Bestuurder Beradingsdiens)

sl-001
sl-002
sl-003
sl-004
sl-005
sl-006