Wees altyd bly in die Here!

Filippense 4:4-9

Is dit nie te veel gevra nie? Om áltyd bly te wees? Jou kar breek; jy word ernstig siek; jy verloor jou werk en jou finansies duik;  'n geliefde sterf ... Is dit nie dan eerder tyd om te huil nie?

Moet die gelowiges in Filippi aan wie Paulus skryf  bly wees oor hulle slegte omstandighede:  liefdeloosheid (2:2-4,14; 4:2); dwaalleer (3:2); vervolging deur Romeine en Jode wat Christus verwerp en gevolglike ontwrigting en armoede (1:27-29); die suigkrag van die heidense kultuur (2:14-16; 3:18-20)?

Moet ons bly wees as mense liefdeloos optree, die Bybel verdraai, en die duiwel ons om elke hoek en draai versoek? Nee, ons hoef nie en mag nie bly wees oor onreg nie (1 Kor 13:6). Ons moet wel bly wees in die Here midde in die slegste omstandighede. Ons moet bly wees omdat Hy versoekings gebruik om ons te laat groei (Rom 5:3-4; Jak 1:2-4).

Wanneer dit met jou taai gaan, fokus op Jesus Christus. Hy is my Here (= Kurios):

  • gekruisigde en verhoogde Verlosser;
  • Oorwinnaar oor sonde en versoekings en vyande;
  • Baas aan wie ons behoort;
  • Regeerder oor die grootste en kleinste dinge;
  • Koning van die konings;
  • die Teenwoordige wat ons deur sy Gees gebruik vir sy glorie;
  • die Komende wat alles nuut gaan maak.

Wees altyd, orals, bly in Hom:

  • Moenie oorbesorg en oorgestres wees nie, maar vertrou Hom.
  • Pas jou begeertes aan by sy begeertes.
  • Fokus in elke situasie jou denke op wie Hy vir jou is en wie jy vir Hom is.
  • Betoon liefde, ook aan jou vyande.

Jy sal dan, selfs in die diepste gat, in die donkerste nag, in die grootste moeilikheid, ervaar hoedat God jou toevou met sy vrede en ‘n onbeskryflike blydskap!

Vorster Combrink (Bestuurder Beradingsdiens)

sl-001
sl-002
sl-003
sl-004
sl-005
sl-006