Lewe met oorgawe

Deur Liesel Krause-Wiid

Wat 'n wonderlike voorreg om 'n kind van God te kan wees, om elke dag uit sy genade te leef. Die Woord van God sê sy genade is elke more nuut. Johannes 10:10 sê, Ek het gekom sodat julle die lewe kan hê en dit in oorvloed. Leef vandag met 'n hoofletter L! Lei 'n oorvloedslewe. Dit is 'n keuse wat jy maak.

Psalm 118 sê, Dit is die dag wat die Here gemaak het. Laat ons daaroor juig en laat ons daaroor bly wees. Bou vandag 'n muur. Ons leef deesdae so gejaagd en jaag sommer net verby die mooi van die lewe, die genade wat God vir ons gee. Bou 'n muur vir vandag en leef regtig! Proe die lewe; moet dit nie net afsluk nie!

Iemand het eenkeer gesê, Jy kan nie kies hoe jy gaan sterf nie, maar jy kan wel kies hoe jy gaan lewe.  Wees dus 'n hoop-verspreider. Maak 'n verskil in ander mense se lewens. Kies jou woorde met oorleg. Hef mense op.
 
Wenners en suksesvolle mense hef mense op, gee vir hulle komplimente en bemoedig en bemagtig hulle, maar minder suksesvolle mense praat oor ander mense, skinder oor ander mense en breek ander mense af. Kom ons wees hoop-verspreiders en leef tot eer van God. Doen dit wat jy doen - ook daar by die werk - vir die Here, nie vir mense nie. Dit is nie vir jou werkgewer wat jy dit doen nie, dit is vir God wat jy dit doen. Geniet wat jy doen. 'n Mens werk twee-derdes van jou lewe - wil jy regtig twee-derdes van jou lewe ongelukkig wees? Maak die keuse om dit wat jy doen met oorgawe en tot eer van die Here te doen. Maak 'n positiewe verskil in ander mense se lewens. Gee vir hulle lewensvreugde, want so vermenigvuldig jy ook jou eie lewensvreugde.

Ons hou tog so gedurig vas aan die verlede en onthou die goeie ou dae, of ons onthou die seer van gister. Moenie net in gister leef nie. Gister is verby. Leef vandag! Proe vandag! Moet ook nie die hele tyd uitsien na more nie. Moet jou ook nie oor more bekommer nie. In Matteus 6 staan daar geskryf, Trouens, wie van julle kan deur hom te bekommer sy lewe met een enkele uur verleng? Nee, beywer julle allereers vir die koninkryk van God en die wil van God. Moet julle dus nie oor more bekommer nie, want more bring sy eie bekommernis. Elke dag bring genoeg moeilikheid van sy eie.
 
Kom ons vertrou eerder op die Here. Kom ons doen wat ons hand vind om te doen. Kom ons doen wat ons kan doen en vertrou God verder volkome. Moet nie verby daardie pragtige blom in jou tuin hardloop nie. So hardloop jy verby God se genade.

Beleef vandag, want hierdie is 'n nuwe dag wat God vir jou gegee het, vol nuwe moontlikhede. Vandag gaan daar wonderwerke in jou lewe gebeur. Vra God om jou geestesoë oop te maak sodat jy dit kan raaksien.

sl-001
sl-002
sl-003
sl-004
sl-005
sl-006