Bid en sê dankie

Deur Liesel Krause-Wiid

Is jy bekommerd? Druk iets swaar op jou hart? Het jy dit al in opregtheid na God geneem? Dit is interessant hoe lank ons partykeer uithou voordat ons met groot erns begin bid oor 'n saak. Ons kla eers by ons vriende. Ons probeer eers ons eie planne maak en dan hou ons gebed as ons heel laaste opsie; ons plan B of C of D, in plaas daarvan om in die eerste plek te bid.
 
Daar is 'n Christelike lied wat sê Hoe verbeur ons tog die vrede, ag hoe dikwels lei ons smart, net omdat ons nie ons node uitstort in God’s Vaderhart. Ja, ons lei somtyds smart omdat ons nie ons gebede voor God uitstort nie.  

Lees hoe mooi staan daar in Jakobus 5 vanaf vers 13 geskryf, As daar iemand onder julle is wat swaar kry, moet hy bid. As daar iemand is wat opgeruimd is, moet hy lofliedere sing. As daar iemand van julle is wat siek is moet hy die ouderlinge van die gemeente laat kom en hulle moet vir hom bid. Die gebed van 'n gelowige het 'n kragdadige uitwerking.
 
As jy moedeloos is, bid! As iets jou pla, bid daaroor! Laat dit jou plan A wees. Bely jou totale afhanklikheid van God. As jy verbitterd is, moenie laat dit wortel skiet sodat jy die heeltyd daaraan dink nie. Die lewe is te kort daarvoor. Moenie verbitterd raak nie, begin bid. As jy iets verkeerd gedoen het, as jy gesondig het, moenie van die Here af weghardloop nie. Bid daaroor, gee dit vir die Here. Sê jy is jammer. Moenie dit toesmeer soos wat Adam en Eva probeer doen het nie. As jy kwaad is vir iemand, moenie kwaad met kwaad probeer vergeld nie, nee, begin bid oor die saak. Bid en wees verseker dat God in beheer is en elke gebed hoor. Hy regeer en Hy is daar vir jou.
 
Hoe klink jou gebede deesdae? Partykeer het mens tye wat jy net voor die Here wil kla, maar dit is so belangrik dat ons bewustelik ons fokus moet verskuif en sê:  Here, ek weet daar is nog soveel waarvoor ek dankbaar kan wees. Partykeer vergeet ons om dankie te sê.  Onthou jy toe Jesus die tien melaatses genees het en net een omgedraai het om dankie te sê?

In 'n oulike artikel sê iemand waarom hulle dink die ander nege melaatses nie teruggekom het om dankie te sê nie. Hy sê die een melaatse het gedink hy wil maar net eers kyk of hy regtig gesond is, dan sal hy omdraai en vir Jesus gaan dankie sê. Die ander een het gedink hy sal later tyd maak daarvoor om vir Jesus dankie te sê dat Hy hom gesond gemaak het. 'n Ander een het besluit hy was nog nooit regtig melaats gewees nie, hoekom moet hy gaan dankie sê? 'n Ander een het vir homself gesê hy sou in elk geval gesond geword het. Nog 'n ander melaatse het gesê dit is mos Jesus se werk om hom gesond te maak, hoekom moet hy dankie sê? En 'n ander een het weer gesê hy was in elk geval besig om beter te raak. Klink hierdie redes bekend?

Moenie vergeet om dankie te sê nie.  Jakobus sê dat die gebed van 'n gelowige het 'n kragdadige uitwerking, maar dat ons God ook moet loof en prys vir elke goeie gawe wat uit Sy hand kom.

sl-001
sl-002
sl-003
sl-004
sl-005
sl-006