Gee jou lewe vir die Here

Deur Liesel Krause-Wiid

Luciano Pavarotti het een keer vertel hoe dit gekom het dat hy een van die wêreld se bekendste tenore geword het. Hy sê as jong seun was hy baie lief vir sing. Sy pa het hom bekend gestel aan die wêreld van opera en hy het toe begin sanglesse neem by iemand in sy tuisdorp. Hy het ook begin leer hoe om sang af te rig. Daar kom toe 'n tyd wat hy moes besluit of hy 'n sang afrigter moet wees, of self moet sing. Luciano Pavarotti sê toe dat sy pa vir hom die beste raad gegee het, Luchiano, jy moet een stoel kies. Jy kan nie op twee stoele sit nie, want dan gaan jy in die middel tussen hierdie twee stoele deurval. Luciano het toe gekies om te sing en dit het hom sewe jaar geneem om homself op te werk en 'n verdere sewe jaar voordat hy in die Metropolitan Operahuis opgetree het. Luciano het gesê, Wat ookal jy doen, of jy nou 'n bouer is en of jy boeke skryf en of jy in 'n kantoor werk, wei jou daaraan toe.

In Romeine 12 sê Paulus, En nou doen ek 'n beroep op julle, broers en susters, op grond van die groot ontferming van God, gee julleself aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is. Dit is die wesenlike van die godsdiens wat julle moet beoefen. Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe, dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is.

Wat Paulus hier vir ons sê, is dat ons onsself aan die Here moet toewy, dat Christene nie maar net soos die res van die wêreld kan praat nie, dat ons nie maar net soos die res van die wêreld kan leef nie. Ons kan nie op twee stoele sit nie, want dan gaan ons in die middel deurval. Ons moet alles wat ons het en onsself as lewende en heilige offer wat vir God aanneemlik is, gee. Elke dag moet ons van daardie troon van die eie ek afklim en sê, Here, ek wei my lewe opnuut toe aan U. Natuurlik beteken dit nie as 'n mens tot bekering kom dat jy eensklaps heilig is nie. Ons het 'n sondige natuur binne in ons, maar ons het ook die Heilige Gees in ons. Wanneer ons sê, Here, neem my lewe oor, begin ons denke vernuwe. Dan begin Hy ons optrede verander sodat ons meer en meer soos Jesus raak.

Jy moet elke faset van jou lewe vir die Here gee. Jy kan nie by die braaivleisvuur anders optree as wat jy by die kerk optree nie. Luther sê, Om deur die Gees te wandel vra ons hele self, dit vra ons hele lewe. 'n Lewe in die gees gaan nie daaroor om net 'n deeltjie van jou lewe, bloot net in jou gedagtes, of jou godsdienstige lewe, of ons emosies of belewenisse vir Hom te gee nie, maar dit gaan daaroor om ons hele lewe vir God te gee.  

Gelukkig sê Jesus dat Hy vir ons 'n Helper stuur. Johannes 14:16, Ek sal met die Vader praat en Hy sal vir julle 'n spesiale Helper stuur. Dit is die Heilige Gees wat ons help om in God se wil te wandel, maar ons moet ruimte vir Hom maak. Ons moet afklim van ons trone af en sê, Heilige Gees, neem beheer van my lewe.

sl-001
sl-002
sl-003
sl-004
sl-005
sl-006