Wat is jou roeping?

Deur Liesel Krause-Wiid

Jy het 'n roeping; dit waarvoor God jou gemaak het. Hy het vir jou unieke talente en gawes gegee, want Hy het 'n plan met jou lewe wat net jy kan uitvoer. As jy nie daardie gawes wat Hy vir jou gegee het uitleef nie, gaan daar 'n stukkie gemis in hierdie wêreld wees. Dit is God se hart en bedoeling dat jy hierdie talente wat Hy vir jou gegee het, sal gebruik en sal uitleef om sy koninkryk hier op aarde te laat kom.

Hoe kom jy agter wat jou roeping, wat jou gawes en talente is? Hier is 'n paar vrae wat jy jouself kan afvra wat jou dalk sal help:

Wat is dit wat jy doen wat jou goed laat voel, wat jou suksesvol laat voel? Wat gee jou energie? Miskien is dit om mense te bemoedig. Wanneer jy ander mense bemoedig, voel dit vir jou of jy 'n energie inspuiting kry. Moenie daardie gawes en talente wat God vir jou gegee het diep in 'n laai wegpak nie. Moenie dink jy is te jonk of te oud, of jy het nie genoeg geld om dit uit te leef nie. Nee, probeer elke dag daardie gawes uitleef om bietjie nader aan jou droom te kom.
 
Partykeer begin ons 'n lewe leef wat nie regtig te doen het met ons gawes nie. Heel dikwels is dit weens finansiële redes, of ons probeer iemand wees wat ons nie regtig is nie. Moenie jou gawes en talente met ander mense sin vergelyk nie. Nee, wees net wie God jou gemaak het om te wees. Probeer om ten minste 'n paar uur per dag jou Godgegewe talente uit te leef.  As dit dan is om siekes te besoek of om 'n inspirerende boodskap op Facebook te sit, doen dit! Skryf daardie brief vandag, maak daardie telefoonoproep of gaan doen daardie hospitaalbesoek. Beweeg nader aan jou roeping. Dit is vervullend wanneer jy weet dat jy die talente uitleef wat God jou gegee het.

Onderhoude wat met sterwende mense kort voor hulle dood gedoen is, wys dat hulle wens dat hulle meer gedoen om hul drome uit te leef, die passie en talente wat God vir hulle gegee het. Maak van elke geleentheid gebruik om nader aan jou droom te kom.

Die wonderlikste is dat God wil hê dat jy hierdie drome moet uitleef, want dit is hoe Hy jou geskep het. Dit is Sy plan met jou lewe. Hy wil hê dat jy jou volle potensiaal moet bereik. Hy wil hê dat jy voorspoedig moet wees in dit waarvoor Hy jou gemaak het.
In Jeremia 29:11 staan daar, Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here, voorspoed en nie teënspoed nie. Ek wil vir julle 'n toekoms gee, 'n verwagting. Dit is wat God vir jou wil hê.

Navorsing toon dat die gelukkigste mense in die wêreld nie die mense is wat die heeltyd langs die strand lê en vakansie hou nie, maar die mense is wat dit doen waarmee hulle goed is. Dit is nie net wanneer jy langs die see lê wat jy gelukkig kan wees nie, maar wanneer jy hierdie doel, hierdie plan wat die Here met jou lewe het, uitleef.
 
Jy is nooit te oud om dit te doen nie. Verdi het die klassieke Ave Maria op 85 gekomponeer, en Michaelangelo het die pragtige Biëta beeld op 87 voltooi. Beweeg sommer vandag nog 'n tree nader aan jou droom, en leef jou Godgegewe talente uit.

sl-001
sl-002
sl-003
sl-004
sl-005
sl-006