Wedergeboorte

Wedergeboorte is die werk van die Heilige Gees waardeur Hy aan dooie mense ware lewe met God gee deur middel van die Woord. Johannes 3:1-21 gee lig hierop.

Dooie mense

Mense wat sonder God is, is dood. Hierdie dooie mense haal asem, maar voer 'n doodsbestaan buite die graf. Daar is basies twee groepe dooies. Eerstens is daar die roekelose dooies wat openlik God en sy gebooie verwerp. In Jesus se tyd was hulle bekend as sondaars, tollenaars en straatvrouens; dink verder aan moordenaars, dobbelaars, hoereerders, dronkaards, ens. (Ef 2:1-3). Tweedens is daar ordentlike dooies. Hulle lewe beskaafd, selfs verfynd, met hoë morele waardes - die Fariseërs en Sadduseërs in Jesus se tyd, iemand soos Nikodemus. Dis die kerklike, godsdienstige dooies (Matt 23:27-28; Op 3:1b).

Nikodemus was dood omdat hy identiteit in homself gesoek het: die Joodse bloed in sy are moes vir hom toegang gee tot die koninkryk van God; hy het staat gemaak op sy godsdienstige ywer; hy het gereken op sy posisie lid van die Joodse Raad; hy't vertrou op sy teologiese kennis.

Dooie mense leef uit hulleself en nie uit God nie. Hierdie geestelike dood, hierdie verwydering van God,  is ons mense se diepste nood. Die vraag is nie net: Kan mens verseker wees van lewe met God na jou sterfoomblik? Nie, maar ook: Is dit enigsins moontlik om te lewe voordat jy doodgaan?

Die lewende Mens

God  sien ons doodsnood raak en dit ruk aan sy hart!  Daarom voorsien Hy die lewe in die plek van die dood. Hy doen dit deur sy Seun te stuur om dooies te vervang. Jesus Christus leef volmaak met sy Vader. Hy sterf die ewige dood en oorwin dit. Hy is die lewe, verdien lewe, beskik oor lewe en voorsien lewe. In Hom word die lewensband met die Vader herstel.

Nikodemus merk iets op van hierdie besondere band tussen Jesus en die Vader in Jesus se  wondertekens soos die bruilof te Kana en die reiniging van die tempel. Hy begin ernstig twyfel aan sy eie lewensresep. Hy begin soek na ware lewe en hoe om dit te kry.

Jesus hoor Nikodemus se noodkreet en wys vir hom die roete na die lewe. Hy  wys na Homself as die Seun van die mens: die Een wat uit die  hemel (van die lewe met die Vader) kom, sterf en opstaan en weer teruggaan na die lewe by die Vader, na die heerlikheid (Joh. 3:13-14). Hy is die Weg na die lewe (Joh. 14:6-7). 'n Mens kom na die Vader deur Hom.

Jesus openbaar Homself as die lewe: Ek is die weg en die waarheid en die lewe; Ek is die goeie Herder; Ek gee my skape die ewige lewe; Ek is die brood wat lewe gee; Ek is die opstanding en die lewe.

Die lewe is dus 'n Persoon, Jesus Christus, God self. Ware lewe is nie te vind by myself of by enige ander skepsel nie: nie in my afkoms nie, nie in my godsdienstige ywer nie, nie in my posisie as kerkmens nie, nie in my kennis van die Bybel nie, maar SLEGS in Jesus.

Die lewendmakende Gees

Hoe word mense wat van nature geestelik dood is, lewendig? Hoe word mense herstel, herskep? Hoe kan iemand wat weggedraai is van God, weer na Hom teruggedraai word? Hoe kan iemand wat vervreem van God is, weer in gemeenskap met Hom leef?

Die Here Jesus stuur sy Gees om dooies lewendig te maak. Dit is die wedergeboorte. Daarom sê Jesus aan Nikodemus: "Dit verseker Ek jou: As iemand nie opnuut gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie". (Joh. 3:3).

Hiermee ruk Jesus ALLES waarop Nikodemus gebou het, onder sy voete uit: As Israeliet word hy nie outomaties in God se koninkryk gebore nie; as fariseër kan hy nie die koninkryk met sy gods-dienstigheid oopsluit nie; as ‘n man met aansien moet hy weet die koninkryk is net vir nederiges; as grootmens en geleerde teoloog moet Hy besef God stel kindertjies in staat om Hom te ken.

Om 'n herstelde lewe met die Vader te kry, is 'n wonderwerk van die Heilige Gees! Jesus gebruik twee beelde om dit te verduidelik: Die eerste beeld is dié van geboorte.  Deur geboorte bring die ma 'n babatjie uit 'n voorgeboortelike bestaan na 'n nuwe, na-geboortelike bestaan. Die is 'n beeld om te sê: Net so plaas die Heilige Gees 'n verlore sondaar oor van 'n posisie buite God na 'n plek by Hom!  Die tweede beeld is dié van wind: Die  wind  waai,  onsigbaar, onbegryplik, maar hy is daar! Net so verstaan ons nie hoe 'n mens uit die geestelike dood opgewek word nie. Maar dit gebeur!

Hierdie wonder waarvan Jesus vir Nikodemus vertel,  het dan ook met Nikodemus gebeur. In Joh. 7:50-52 pleit hy dat daar reg moet geskied  aan Jesus. In Joh. 19:39 gee hy speserye vir Jesus se begrafnis. Hy kom openlik na vore as 'n aanhanger van Jesus.

Die wedergeboorte gebeur! Dit kan gebeur met roekeloses ... én met kerkmense, met grootmense ... én met kinders, met ander ... en met mý!

In die 17e eeu het 'n kerklike vergadering dit wat die Bybel oor wedergeboorte sê, so beskryf:

Deur die kragtige werking van die Heilige Gees, wat die wedergeboorte skenk, dring God deur tot in die binneste dele van die mens, open Hy die geslote hart, versag Hy wat hard is, en besny Hy wat onbesnede is. In die wil stort Hy nuwe eienskappe in en maak die wil, wat dood was, lewend; wat sleg was, goed; wat onwillig was, gewillig en wat ongehoorsaam was, gehoorsaam. Hy beweeg en versterk die wil sodat dit, soos 'n goeie boom, vrugte van goeie werke kan dra.

Dit is die wedergeboorte, die nuwe skepping, die opwekking uit die dood en die lewend-making,  waarvan die Skrif so heerlik spreek,  wat God sonder ons, in ons werk... Dit is 'n volkome bonatuurlike, baie kragtige en tegelyk baie aangename, wonderlike, verborge en onbeskryflike daad van God ...  Die gevolg is dat almal in wie  se harte God op hierdie wonderlike wyse werk, sekerlik, onfeilbaar en kragdadig weergebore word en daadwerklik glo (Dordtse Leerreëls Hoofstuk 3 & 4:11,12).

Omdat God die lewe - wat Jesus Christus verdien het - verniet gee, eis Hy dat ons dit gelowig aanneem deur die krag van die Heilige Gees (Joh. 3:16). En wie in die Seun in die Seun glo, het die ewige lewe (1 Joh. 5:12,13)

Lees ook:  Eseg. 37:1-14; Rom 8:1; 1 Pet 1:3, 23-25; Jak 1:18; 1 Joh. 2:29; 3:9; 4:7; 5:1 (53-Vertaling).

4 Mei 2009

sl-001
sl-002
sl-003
sl-004
sl-005
sl-006