Enkel/Alleen in diens van God

Enkelwees dui hoofsaaklik op drie groepe mense: (1) Mense wat nooit trou nie (oujongkêrel of oujongnooi); (2) volwassenes wat enkel is vir 'n seisoen totdat hulle trou; (3) persone wat vir 'n periode getroud was (geskeides, weduwees en wewenaars).

Tipiese probleme waarmee enkel mense sukkel is bv. identiteit, verwerping, vrees, bitterheid, seksualiteit, eensaamheid.

Enkel mense vra soms: "Waarom is ek alleen? Waarom het ek nie vriende nie? Waarom kry ek nie 'n lewensmaat nie? Is dit normaal om enkel te wees, of is daar groot fout met my?"

Enkelwees of getroudwees is beide geldige opsies in God se koninkryk. Byvoorbeeld: Jesus en Paulus was ongetroud. Petrus en Aquilla was getroud.

Soms het iemand die potensiaal om te trou, maar verkies om enkel te bly omdat die persoon traumas uit die verlede nie behoorlik verwerk het nie, bv. streng ouers wat jou sosiaal geblok het; iemand wat jou verkrag of gemolesteer het; die beperkinge van siekte, gestremdheid, of depressie. Hierdie traumas moet reg verwerk word, verkieslik met die hulp van 'n Bybelse berader. As gelowiges word ons identiteit nie bepaal deur wat mense aan ons doen, of deur siekte, of deur voorkoms nie, maar slegs deur wie ons in Jesus Christus is.

Enkellopendes het nie minder waarde as getroudes nie, al dink die samelewing so:  As 'n enkellopende persoon saam met 'n vriend van dieselfde geslag 'n funksie bywoon, dink mense hy/sy is gay; as sy bevriend is met verskeie mans, word sy beskou as 'n flerrie; as sy alleen by 'n funksie opdaag, skerm getroude vrouens vir hulle mans.

Getroudwees is opsigself nie beter of slegter as ongetroud wees nie. In God se diens is daar ruimte vir albei (Gen 2:18; 1 Kor. 7:8,35; Fil. 4:11). Die huwelik is nie twee halwes wat 'n hele word nie: 50% & 50% = 100%. Nee, dis eerder 100% & 100% = 200%., 'n twee-eenheid. Enkelpersone is nooit half, of onvolledig, of minderwaardig nie (Kol 2:9-10a). Elleenwees verhinder jou nie om voluit vir God en jou naaste te leef nie.

Wat van die behoefte om kinders te hê?  Kinders bring vreugde as hulle die Here ken en dien (Ps 127:3; Ps 128) maar ook pyn - as hulle seerkry, siek word, sterf, of afdwaal van die Here. Enkel mense het soms tyd om aan ander mense se kinders te bestee. Belê ook in langtermyn vriendskappe, dan hoef jy nie bang te wees vir jou oudag sonder die aandag en sorg van kinders en kleinkinders nie.

Enkelwees bied uitstekende geleenthede om God in sy koninkryk te dien (Ef. 2:10). Die gevaar is dat 'n mens dit kan oordoen. 'n Mens kan in die slagyster van werkverslawing trap om te vergoed vir die leë plekke in jou lewe, om aansien by mense te kry.

Enkelwees is 'n geleentheid. Paulus skryf oor sy gevangenskap: "Ek wil hê dat julle moet weet, broers, dat wat my oorgekom het, juis die verkondiging van die evangelie bevorder het" (Fil. 1:12). Ons kan miskien nie ons omstandighede verander nie, maar wel ons omstandighede gebruik as 'n geleentheid om God te dien! Hy voorsien alles wat jy nodig het om Hom in die bepaalde omstandighede te dien (2 Pet 1:3).

'n Besondere uitdaging vir ongetroudes is om vriendskappe met medegelowiges te bou (Spr. 17:17; 27:6; 24:26). Binne die gemeenskap van gelowiges verryk ons mekaar met ons gawes (1 Kor. 12-14).

Maar alleen wees is ook 'n seën as jy dit gebruik as geleentheid vir groei. Woestyntyd is ook nodig – dink maar aan Elia, Jesus, Johannes die Doper, Paulus.

Dit gaan nie om die "beste van 'n slegte saak te maak nie, maar nie mooiste van 'n belangrike saak, jou enkelwees!" (Pienaar, 1992:10).

Bron:
Pienaar, J. 1992. Enkel, maar nie alleen! Pretoria : JP van der Walt.

sl-001
sl-002
sl-003
sl-004
sl-005
sl-006