Bybelse berading aan persone met selfmoordneigings

Voorkoms

'n Paar mande gelede is ons geskok toe 'n jong meisie haar eie selfmoord afgeneem het. Dit het ons laat dink aan die vlae selfmoorde  deur hoërskoolleerders in Gauteng die afgelope twee jaar. In 2005 het Radiokansel onderhoude met dr Braam Hoffman en dr Henk Gous gevoer oor die saak, en daarna is Radiokansel oorval met navrae en oproepe van mense wat hulp soek.

Selfmoord kom wêreldwyd voor. Die Viëtnamese Oorlog het bv. meer Amerikaanse soldate weens selfmoord geëis (hulle manier om post traumatiese oorlogstres te hanteer) as die oorlog self.

Navorsing in 2000 plaas selfmoord 11e op die lys van oorsake van sterftes in die VSA. Die verhouding selfmoord-moord daar is 5-3. Dit kom toenemend voor onder mans ouer as 65, veral by die wat 'n lewensmaat verloor het deur dood of egskeiding, en wat sukkel met eensaamheid en depressie. Selfmoord in die VSA is die derde hoogste oorsaak van dood onder jongmense tussen 15 en 24 naas ongelukke en moord. Tendense in die RSA sal waarskynlik hiermee ooreenstem.

Irrasionele denke en gedrag

'n Persoon wat selfmoord oorweeg, dink op daardie oomblik nie normaal nie en tree impulsief en onverantwoordelik op.

Oorerwing

A.g.v. oorerwing het sekere persone kroniese energietekorte wat in die brein geregistreer word as 'n chemiese wanbalans. Sekere probleme soos bipolêre versteuring, major depressie, skizofrenie en verslawings, kom in  families voor en verhoog die risiko vir selfmoordgedrag. Energietekorte kan met natuurlike aanvullings verlig word.

Depressie

Daar is 'n duidelike verband tussen selfmoord en depressie. Nie alle persone met depressie is geneig tot selfmoord nie. Ongever 60% van  persone wat selfmoord pleeg, het ook depressie, d.w.s lae seretonien-vlakke in die brein. Persone met verslawings ly ook aan depressie en hulle het gewoonlik ook finansiële en verhoudingsprobleme. Daar is goeie hulp beskikbaar vir persone met depressie.

Blootstelling

Blootstelling aan selfmoord in die gesin of portuurgroep of deur die media kan veral jongmense beinvloed om selfmoord te oorweeg. Die "aansteeklikheid" word versterk deur onverantwoordelike mediadekking, bv. beriggewing wat die tema oorbeklem-toon deur prominensie, herhaling, detail, verheerliking van die daad, of detail oor die metode van selfmoord. Berigte behoort versigtig te geskied en ook inligting te verskaf oor waar mense hulp kan kry. Gesinslede en vriende behoort traumaberading te kry.

Vooraf tekens

Een of meer van die volgende kan voorkom:

  1. Persoon sê openlik hy oorweeg selfmoord.
  2. Sê niks, en steek die voorneme weg, maar toon wel sekere tekens of veranderinge. Die veranderinge is soms so geleidelik dat familie of vriende hulle nie as gevaartekens herken nie.
  3. Onttrek van gesinslede, vriende.
  4. Wil dringend oor ernstige lewenskwessies praat.
  5. Soek inligting oor maniere om selfmoord te pleeg, bv pille, vuurwapens, ens.
  6. Lyk bekommerd en gestres.
  7. Het 'n algemene negatiewe gemoedstoestand.
  8. Verander drasties van baie negatief na baie positief: opflikkering lyk na beterskap; die tydelike "high" gee soms vir persoon moed / energie om tot die daad oor te gaan.
  9. Beleef enige verliese baie negatief.
  10. Vorige pogings.

Persoon se ervarings

Elke mens se belewenis is uniek. En een of meer van die volgende kan toepaslik wees:

  1. Onsekerheid: Moet ek my lewe neem, of nie? Een deel van persoon wil selfmoord pleeg, ander deel wil nie. Die feit dat persoon daaroor wil praat, dui op twyfel.
  2. Ervaar groot seer agv. van verliese: dierbare, werk, gesondheid.
  3. Dink die pyn is te groot: groter as die vermoë om dit te hanteer.
  4. Het meestal depressie: Ervaar desperaatheid, hopeloosheid, hulpeloosheid, magteloosheid, isolasie.

Hoe kan ons mekaar help?

Hierdie wenke is nie voorskrifte nie, maar riglyne. Laat jou lei deur die Heilige Gees:

  1. As iemand dreig om selfmoord pleeg, neem dit ernstig op. 80% van mense wat selfmoord pleeg, gee vooraf een of ander aanduiding van wat hulle beplan, bv.: "Ek het niks meer om voor te lewe nie"; of: "Niemand sal omgee as ek nie meer daar is nie".
  2. Die feit dat iemand praat oor sy voorneme, is 'n hulproep. Wees positief daaroor dat die persoon dit eintlik nog oorweeg om te bly lewe.
    • "Ek is so bly dat jy nie jouself doodgemaak het nie, maar hulp soek om te bly lewe. Ek sal jou graag daarmee wil help"
    • "Wil jy hulp en raad hê vir jou selfmoordgedagtes?"
    • "Ek is bly dat jy hieroor wil praat. Ek sal graag na jou luister."
    • "Jy doen die regte ding om met iemand te praat, en sal graag wil hoor wat jy vir my wil sê".
    • "Dis so goed dat met my praat. Vertel my asb meer ..."
    • As jyself onbevoeg voel om iemand by te staan, vra: "Kan ek jou help om by iemand uit te kom met wie jy kan gesels?".
  3. Stel opreg belang. Luister deeglik sonder om te veroordeel of te gou raad te gee. Vra uit oor:
    1. Persoon se situasie (negatiewe druk: situasie / stressore / omstandighede / verliese / depressie; positiewe druk:):
      • "Vertel my asb meer oor jouself"
      • "Het jy 'n gesin?"
      • "Is daar op die oomblik goed in jou lewe wat vir jou baie sleg is?"
      • "Wat vang jou die meeste?"
      • "Wie het jou seergemaak?"
      • "Wat het jy verloor?"
    2. Reaksies / gedrag / gemoedstoestand: moedeloosheid, desperaatheid, moegheid
      • "Hoe voel jy op die oomblik: Is jy kwaad, hartseer, moedeloos?"
      • "Vertel asb meer van jou seer"
      • "Voel jy depressief?" Vra uit oor simptome van depressie: versteurings in eet, slaap, werk, sosiaal, seks
    3. Denke / begeertes / vrese / skat:
      • "Het jou probleme vir jou te veel geword?"
      • "Waarom oorweeg jy selfmoord?"
      • "Waarvan wil jy wegkom?"
      • "Waarom is dit vir jou nie meer die moeite werd om te bly lewe nie?"
      • "Wat sal dit vir jou die moeite werd maak om aan te gaan met die lewe?"
      • "Watter plek het God in jou lewe?"
      • "Hoe sien jy jouself op die oomblik?"
  4. Bemoedig / Gee hoop:
    1. God verstaan jou swaarkry en hoe jy voel, al kan ek of ander of jyself nie verstaan nie.
    2. Jesus het in jou skoene kom staan en jou lyding gedra. God is by sy kinders, al voel dit nie so nie. Gaan na Hom toe met jou probleme en vertrou Hom.
    3. God verlaat nooit sy kinders nie, al voel dit partykeer so.
    4. Baie mense wat selfmoord oorweeg het, het het dit nie gedoen nie, maar deur-gekom. Jy kan ook. Gee jouself tyd om deur jou probleme te werk.
    5. Stel ten minste jou besluit uit en gaan kyk na die beskikbare hulp. Dit sal jammer wees as jy die hulp wat beskikbaar is, misloop / nie benut nie.
    6. Meeste persone wat wil selfmoord pleeg, het depressie. Die goeie nuus is: Depressie kan behandel word. Daar is medikasie en aanvullings en berading beskikbaar om jou te help om dit te hanteer.
  5. Aksie
    1. Moedig die persoon aan om saam met jou na die Here te gaan. Bid vir die persoon. Verseker die persoon dat jy vir hom / haar sal bly intree.
    2. Moedig die persoon aan om so gou moontlik iemand op te soek wat kan help: familielid, vriend, dokter, predikant, berader. Vra 'n onderneming / belofte. Wie gaan die persoon sien? Wanneer? "Dis duidelik dat jy jou seer nie verder alleen kan hanteer nie. Jy het insette van ander mense nodig om jou in staat te stel om die druk beter te hanteer".
    3. Moenie in 'n redenasie betrokke raak oor die voordele van die lewe bo die dood nie. Die persoon glo irrasioneel dat die dood beter as die dood sal wees. Doen 'n persoonlike beroep op die persoon om nie sy eie lewe te neem nie.
    4. Mense dink soms skeef oor die dood (selfmoord) en verromantiseer dit selfs. Wys die persoon daarop dat dit nie die wil van die Here is nie. Wys ook op die verreikende gevolge van selfmoord vir homself en vir diegene wat agterbly.

Vorster Combrink

1 Mei 2007

sl-001
sl-002
sl-003
sl-004
sl-005
sl-006