Troos in Swaarkry

Sedert Adam en Eva sonde gedoen het, is seer/lyding deel van ons lewe op aarde (Genesis 3; Romeine 8:18 e.v.). Ons kry swaar deur siekte, stukkende verhoudings, onreg, mishandeling, dood van 'n geliefde, en soveel ander vorms van lyding.

Oorsake van swaarkry

Wat veroorsaak lyding? Wie is verantwoordelik vir ons swaarkry? Daar is vyf partye
betrokke by swaarkry:

  • Ander mense maak my seer deur hulle sonde. 'n Dronk bestuurder ry 'n voetganger dood; 'n man verlaat sy vrou vir iemand anders. In hierdie gevalle is die persoon wat ly, 'n slagoffer, en nie verantwoordelik vir die pyn nie, en hoef hom-/haarself nie te blameer nie. Die slagoffer se  verantwoordelikheid is om nie kwaad met kwaad te vergeld nie, maar om hulp by die Here te soek, die oortreder aan die Here oor te gee en eventueel te vergewe (Ps 26:1,10,11; 1 Pet 2:23).
  • Ekself is betrokke by my lyding. 'n Mens ly soms omdat  jy gesondig het (Esegiël 18; Romeine 1:18 e.v.). Voorbeelde: Iemand kry voortdurend woede-uitbarstings en verloor dan sy vriende; 'n werknemer word afgedank omdat sy gesteel het by haar werk. Elke mens is verantwoordelik vir sy eie skuld en die gevolge daarvan. 'n Mens mag jouself nie verontskuldig of ander mense blameer nie (Galasiërs 6:7-8).
  • Adam is ook betrokke by my swaarkry. Adam se sonde het sy hele nageslag in ellende gedompel. Weens sy sonde ervaar ons God se vloek op die skepping in die vorm van siekte, sweet, swakhede, gebreke, dood, ens. (Genesis 3; Romeine 8:18 e.v.). Hierdie ellende sal altyd daar wees tot by Jesus se wederkoms.
  • Satan veroorsaak ook lyding. Hy is 'n mensemoordenaar (Johannes 8:44); 'n leeu wat verslind (1 Petrus 5:8); 'n leuenaar en verleier. Ek kan egter nie die Satan alleen die skuld gee vir my sonde nie. Ek is mede-aandadig (Efesiërs 2:1-3).
  • God is ook betrokke by my lyding. Naomi het gedink dat God haar seergemaak het (Rut 1:20). God is egter nie die outeur van sonde en lyding nie, maar Hy is wel oor alle dinge, ook oor ons lyding. Teen die tyd dat lyding by ons uitkom, is dit God se wil (1 Petrus 4:19). Hy laat dit toe volgens sy raadsbesluit (Efesiërs 1:11b). God se regering neem nie my verantwoordelikheid weg nie. Natuurlik het God medelye met ons en daarom het Jesus volledig in ons wêreld van pyn inbeweeg (Hebreërs 2:14-18).

Ons kan die betrokkenheid van bogenoemde vyf partye by ons lyding soos volg voorstel:

GodsRule

  • Al die partye is betrokke Lyding val selde presies in een kategorie - meestal in al vyf. 'n Bepaalde siekte kan byvoorbeeld toegeskryf word aan die vloek van Adam, iemand wat my aansteek, ek wat my blootstel aan kieme, die satan wat my daardeur wil versoek, en God wat my daardeur beproef. As mens lyding net aan een oorsaak toeskryf, is dit vals. As lyding bv. net aan ander mense toegeskryf word, kan ons heeltyd ander blameer. As ek as die enigste oorsaak van my lyding gesien word (vergelyk Job se vriende wat hom beskuldig), kan daar valse ervarings van skuld en veroordeling wees. As lyding altyd net Adam se skuld is, kan mens fatalisties raak. As lyding net van Satan is, kan ons ons heeltyd besig hou met geestelike oorlogvoering. Om God as oorsaak van lyding te beskou, is lasterlik. Hy laat wel lyding toe met 'n doel.

Troos

Ware troos hou rekening met die twee bakke van die skaal: lyding en heerlikheid. 'n Gelowige wat ly, moet raaksien dat heerlikheid swaarder weeg as lyding. Gelowiges in die Bybel het dit so ervaar (Job 1:21; Daniël 3:17-18; 2 Kor. 4:17). Die volgende beloftes / uitsprake van God is heerlikheidsgewigte:

  • God sê: "Bring jou lyding onder woorde" God moedig ons aan om eerlik met Hom te praat oor ons pyn (Job; Psalms; Klaagliedere; Heb 4:14-16). Ons kan met God kommunikeer in woorde, maar ook sonder woorde, met trane en sugte, deur te skryf. Die vrou teen wie seksueel gesondig is, kan haar skok, vernedering, skaamte, aggressie, en ervarings van skuld en gevoelloosheid aan God ontbloot. Vrae soos: "Waarom het God dit nie gekeer nie?" is onvermydelik.
  • God sê: "Daar is teen jou gesondig" in geval van mishandeling God het 'n boodskap aan persone wat slagoffers is van ander mense se sonde: Hy kies vir geregtigheid teen sonde. Hy sal die kwaad vergeld (Romeine 12:19). Verantwoordelikheid moet uitgesorteer word. Die slagoffer moet nie skuld vat as

hy geen skuld het nie.

  • God sê: "Ek is by jou en het jou lief" In ons swaarkry verseker God ons van sy liefde (Romeine 8:38,39). Hy stel ons opnuut voor sy Seun, die mede-Lydende (Jesaja 53:10; Markus 8:31). God ken lyding in sy mees intense en rou vorm - die Lam is geslag! Hy verstaan ons lyding (Hebreërs 4:15). Daarom is Hy ook by sy kinders wat ly (Psalm 23; Jeremia 23; Esegiël 34; Johannes 10). Hy belowe dat Hy jou nooit sal verlaat nie (Hebreërs 13:5). Vertrou Hom, al verstaan jy nie waarom jy moet ly nie.
  • God sê: "Weet dat Ek God is" God verseker ons dat Hy regeer ten spyte van 'n deurmekaar wêreld. Die feit dat Hy bo alles is, maak Hom nie die oorsaak van lyding nie. As ons God probeer ondervra, draai Hy dit om en ondervra ons: Wie kan sy heerlikheid deurgrond? Al Job se vrae is opgelos in een antwoord: "Weet dat Ek God is" (Job 38-41). Jesus Christus se heerlikheid is God se antwoord op ons lyding. Hy kan vertrou word (Psalm 62:11-12).
  • God sê:  "Daar is 'n doel met lyding" God gebruik ons swaarkry om sy doel daarmee te bereik, naamlik om Homself te verheerlik. Hy laat alles ten goede meewerk vir sy kinders (Romeine 8:28). Hy laat ons al meer die beeld van Jesus vertoon. Ons is dikwels met te min tevrede: onmiddellike verligting van swaarkry - maar God wil soveel meer gee: nuwe gehoorsaamheid en toewyding aan Hom (Psalm 119:67,71; Hebreërs 12:10,11).

Swaarkry lê ons harte bloot

Swaarkry plaas druk op ons en ontbloot ongeloof en ongehoorsaamheid in ons harte, en dan moet ons daarmee na God toe draai. Die toets is: As God sy gawes van ons wegvat, sal ons Hom nog steeds dien? Swaarkry toets of ons God dien vir Wie Hy is, of vir onsself (2 Korintiërs 1:9).  God se vergewing en ons heiliging weeg swaarder as ons lyding.

Swaarkry lê die heerlikheid van die toekoms bloot

Deur ons swaarkry wil God ons aandag vestig op die toekomstige heerlikheid (2 Korintiërs 4:17-18). Die Heilige Gees leer ons om te hoop wanneer ons swaarkry (Romeine 5:2; 8:18-39; 1 Pet 4:12-14). Hoop is 'n gawe wat geoefen moet word (Romeine 15:4). Die toekomstige heerlikheid weeg baie swaarder as ons swaarkry (Romeine 8:18).

Lydende diensknegte van God

Wat bepaal ons identiteit? Is dit ons swaarkry? As gelowiges is ons identiteit: Mense-aan-wie genade-betoon-word (Romeine 5:8). Omdat God se genade swaarder weeg as ons swaarkry, word ons nie gedefinieer of beheer deur ons swaarkry nie, maar deur God wie se diensknegte ons is.

Liefde as antwoord op lyding

Die gewig van God se heerlikheid vernietig nie ons swaarkry nie, maar verander ons vrae. Die vraag: "Waarom het God dit nie gekeer nie?" word minder dringend, en ons begin vra: "Hoe kan ek God se liefde vir my in Christus beantwoord?; Hoe kan ek my vyande liefhê?" So word God verhoog en verheerlik in ons swaarkry.

Bron:  
Assosiasie vir Bybelse Berading en Opleiding. 2009 Kursus in Bybelse Berading. Randburg : ABBO
2 September 2009

sl-001
sl-002
sl-003
sl-004
sl-005
sl-006