Lewe met hoop in depressie

Persone met depressie beleef dikwels hooploosheid. Maar ons weet: Jesus is ons Hoop, ook in ons depressie!

Depressie verskil van persoon tot persoon en navorsers onderskei bv. tussen Distemie, Major Depressie en Bipolêre Depressie.

  • Distemie is 'n langtermyn depressie wat die persoon verhinder om optimaal te funksioneer. Die volgende kom voor: swak eetlus of ooreet; slaapversteurings; moegheid; swak self-siening; swak konsentrasie en besluitneming; ervarings van hopeloosheid.
  • Major Depressie vertoon gewoonlik 'n herhalende patroon van insinkings oor 'n periode van ses maande en langer. Tydens 'n insinking kom van die volgende na vore: aanhoudende hartseer, angstigheid of ervarings van leegheid; hopeloosheid en pessimisme; skuldbesef, waardeloosheid en selfverwyt; verloor belangstelling in aktiwiteite waarvan jy gehou het, insluitende seks; slaaploosheid of oormatige slaap; veranderinge in eetlus en/of gewigsverlies of -toename; vermindering in energie, moegheid; toename in gebruik van alkohol en dwelms; gedagtes aan die dood en pogings tot selfmoord; rusteloosheid, geïrriteerdheid en vyandigheid; probleme om te konsentreer, te onthou en besluite te neem; aanhoudende fisiese simptome wat nie op behandeling reageer soos hoofpyne, spysverteringsprobleme en kroniese pyn; agteruitgang van sosiale verhoudinge.
  • Persone met Bipolêre Depressie presenteer met afwisselende periodes van manie en depressie. Tydens 'n maniese periode voel en funksioneer hulle beter as die gemiddelde persoon. Tipiese kenmerke van manie is  bv. ongeïnhibeerde gedrag (tov spandering, drink, seks) en wane (persoon beskou homself as 'n uitverkore figuur met 'n buitengewone opdrag).

Uit bogenoemde kan ons sien dat mense met depressie gewoonlik bepaalde gedragspatrone het soos byvoorbeeld slaapversteurings; afname in werkproduktiwiteit; psigo-motoriese vertraging (denke & spraak); agitasie (bv. rusteloosheid, vroeteling, naelbyt, hare trek); angstigheid (bv. geïrriteerdheid, hartkloppings, sweet, droë mond, slegte spysvertering); pyn (in rug, nek, spiere, hoof); verandering van seksdrang; oorbeheptheid met gesondheid en klagtes; verandering in eetgewoontes en gewig; obsessies; kompulsies; wisseling in energiekurwe; konsentrasieprobleme; sosiale onttrekking; ens.

Persone met depressie het ook kenmerkende denke, byvoorbeeld skuldbesef; selfmoord-gedagtes; ervaring van onbekwaamheid en hopeloosheid; bekommernis oor klein dingetjies en oor gesondheid; dink jy het beheer verloor; gedagtes dat jy vervolg word; God het my nie lief nie; God straf my; ek dink ek slaag nie en is bang ek misluk; ek is bang mense verwerp my; ens.

Persone met depressie toon gewoonlik 'n tekort aan serotonien, 'n baie belangrike chemiese stof wat betrokke is by die oordra van impulse in die brein. Te min serotonien blokkeer die oordra van die impulse. Wanneer 'n mens blootgestel word aan sekere langdurige stressore (druk), en jou denke is dan negatief, word 'n oormaat adrenalien afgeskei wat die serotonien afbreek. Die persoon ervaar dan stres en depressie.

Depressie is nie bloot 'n mediese siekte nie, maar 'n geestelik-psigiese-fisiese-sosiale toestand, en daarom is dit uiters belangrik dat persone met depressie omvattende hulp kry.

  • 'n Psigiater of mediese dokter kan medikasie voorskryf, bv. 'n gemoedstabiliseerder, antidepressant, ens. Dis uiters belangrik om gereeld met die psigiater te konsulteer sodat die effek van die medikasie gemonitor en die medikasie aangepas word soos nodig.
  • 'n Dieetkundige moet aandag gee aan die aanpassing van dieet en die neem van natuurlike aanvullings soos byvoorbeeld ko-ensieme, vitamines en minerale.
  • 'n Bybelse berader begelei die persoon om sy depressie vanuit die Skrif te verstaan en doeltreffend te bestuur. Dis veral belangrik om die persoon te lei in die (her)vestiging van Skriftuurlike denke oor God, self en ander persone of omstandighede. Herstrukturering van lewensgewoontes moet ook aandag kry.
  • Naasbestaandes, vriende en die gemeente moet betrek word om 'n sensitiewe ondersteunende en aanmoedigende rol te speel.

Frank Minirith en Paul Meier beveel die volgende basiese lewensriglyne aan vir persone met depressie:

  • Wy jou lewe daagliks aan die doel om God te verheerlik.
  • Spandeer daagliks tyd om God se Woord te mediteer en op jou lewe toe te pas
  • Hanteer griewe en aggressie op 'n daaglikse basis
  • Bou steeds aan jou verhouding met jou gesin en familie
  • Spandeer elke week tyd met vriende vir vriendskap en pret
  • Volg 'n daaglikse roetine (bv. werk, ontspanning) wat vervullend is
  • Doen elke week iets spesiaals vir iemand anders.

As gelowiges word ons identiteit nie bepaal deur depressie nie, maar deur Jesus Christus. In Hom is ek 'n nuwe mens (2 Kor. 5:17) en niks - nie eens depressie - kan my skei van God se liefde nie (Rom 8:38-39). Ter wille van Jesus Christus is Hy by my, al voel ek nie dat dit so is nie. Hy wil hê dat ek in 'n intieme verhouding met Hom sal lewe (2 Kor. 6:18).

I believe in the sun -
even when it is not shining.
I believe in love -
even when I’m not feeling it.
I believe in God -
even when He is silent.
- Unknown

Om te lees:
Frisby-Lowe, A. 2007. Victory over Depression: My Journey to the Light. Vanderbijlpark: Corals Publishers
Minirith, F. & Meier, P. 2003. Happiness is a Choice: The Symptoms, Causes and Cures of Depression. Grand Rapids : Baker.
Welch, E.T.  1998. Blame it on the Brain? Distinguishing Chemical Imbalances, Brain Disorders and Disobedience. Phillipsburg : P & R.
Welch, E.T.   2004.  Depression - A Stubborn Darkness : Light for the Path. Greensboro:
New Growth Press.

16 Maart 2009

sl-001
sl-002
sl-003
sl-004
sl-005
sl-006