Bestuur jou finansies met vreugde

Geniet jou geld - geniet jou lewe! Geniet dit met vreugde: die verhoudings, gesondheid, geleenthede en geld wat die Here aan jou gee. Hoe kan ek geld geniet?

Die eerste stap: Wees vergenoeg! Die Bybel sê in Heb 13:5:  "Julle gedrag moet vry van geldgierigheid wees. Wees tevrede met wat julle het, want Hy het gesê: Ek sal jou nooit begewe en jou nooit verlaat nie. Besluit om tevrede te wees met wat God gee". Vertrou Hom. Gee ook aan ander mense met 'n dankbare hart!

Onthou dat jy reeds die grootste gawe wat daar is, ontvang het, as jy die evangelie glo! Laat dankbare vergenoegdheid jou benadering tot materiële besittings weerspieël.

Tweede stap: Vergelyk jou geld met 'n gietertjie. Elke maand word 'n bepaalde volume water (geld) in jou gietertjie gegooi. Verbeel jou nou dat jy 'n aantal potplante met hierdie water wil versorg. Sommige plante is vir jou meer werd as ander. Sommige het meer gekos as ander. Aan sommige heg jy 'n sentimentele waarde. Wél, om jou geld te bestuur kom op dieselfde neer as om jou maandelikse hoeveelheid water tussen jou potplante só te verdeel, dat hulle die meeste waarde uit jou 'water' kry. Jy is gedurig aan die meet en pas: Hierdie plant kan met 'n bietjie minder water klaarkom, en daardie een vra weer méér.  Sê nou ek knyp 'n bietjie af by hierdie twee, dan sal daardie groot potplant gedy...   Of: Ek verkoop hierdie een, gee daardie twee weg, en hiérdie ou is in elk geval besig om te vrek - hy kry niks. Het jy al die sweefstok-kunstenaars gesien wat 'n hoë tou loop? Dis 'n goeie voorbeeld van iemand wat sy finansies bestuur!

Derde stap: Merk jou gietertjie Nou kan jy sien hoeveel water elke potplant kry. Hoe kan dit dit met jou geldelike uitgawes doen?

Die maklikste manier is om 'n aantal gemerkte houertjies te hê (ek het altyd bakpoeierblikkies gebruik) waarin jy jou geld sit. Sluit jou houertjies toe op 'n veilige plek. Plak etikette op, bv. 'kw' (kruideniersware); 'persoonlik'; ens.). Nou kan jy makliker sien 'waar jy staan' enige tyd van die maand. Die nadeel is dat jy jou kontant vir die maand reeds aan begin van die maand moet trek, en dus meer rente betaal as jy oortrokke is.

'n Ander manier is om in 'n boek 'n bladsy oop te hou vir elkeen van die volgende 'kw'; W&L (water en ligte); huur; vervoer; ens.  Dan maak jy 5 kolomme per bladsy: Kolom 1 is vir die datum; kolom 2 vir die 'Item'; kolom 3 vir 'Uit'; kolom 4 vir 'In'; kolom 5 vir 'Saldo'. Bv: Op jou KW bladsy: 26/3/09 / kw P&Pay / 303 (moenie met sente werk nie) / (laat oop) / 70. 'n Sakrekenaar bereken die optel- of aftreksomme maklik. Elke begin van die maand skryf jy dus jou begrote bedrag neer vir KW vir die betrokke maand. Of gebruik 'n rekenaarprogram soos hierbo genoem. Jy kan bv. Ms Excel, of Open Office (hy's verniet), Ms Money of Quicken gebruik. Bly net by die basiese dinge. Ek werk my begroting uit op Ms Excel, en gebruik 'n finansiële program vir die res.

Ek dra 'n klein boekie en 'n pen by my, en skryf my kontant-uitgawes daarin neer: Slegs die bedrag (bv. 50) en die item (bv. hare); en geen datum. Ek trek van tyd tot tyd kontant by 'n OTM, bv. R300. By my rekenaar sien ek op my afgelaaide bankstaat dan 'Kontant-onttrekking OTM R300' wanneer ek my bankstate weekliks nagaan. (Ek is lui, en hou nie van 'n 'groot' werk een keer per maand nie). Nou vat ek my klein boekie, en merk my kontant-uitgawes met 'n rooi merkie af soos ek hulle op my rekenaarprogram se insleutel. (Ek 'skei' - split - my boekie-uitgawes totdat die R300 op my afgelaaide bankstaat 'vol' is. Ek doen dit m.b.v. Ms Money 2004 wat ek splinternuut vir $4 gekoop het. Praat van vrekkerig!)

Wat van nie-kontant uitgawes soos Internet-betalings (bv. 'elek'), kredietkaart of debietkaart-uitgawes? Elke week, wanneer ek my bankstate aflaai in my finansiële program, gaan ek elke item ná, en siedaar, hulle is gedateer, opgetel en soort-by-soort gegroepeer onder 'KW'; 'Elek'' 'Motor'; 'Versekering'; 'Medies' en wat ook al. Jy kan met kontanthouertjies begin; 'n bietjie eksperimenteer met die boek, en, as jy wil, jouself 'promoveer' na 'n rekenaarprogram. Of as jy moed het, plons sommer dadelik in met die rekenaar!

Vier: Bereken jou 'plante' se totale behoefte. Laat dit klop met die hoeveelheid water in jou gietertjie. Ons noem dit jou 'begroting'. Kom ons aanvaar dat jy 3 liter 'water' (geld) per maand kry. As jy oulik is, kan jy dit in Ms Excel of Open Office doen, en 'n outomatiese totaal van jou lys van benodigde 'water-uitgawes' kry. Probeer jou maandelikse inkomste met jou totale uitgawes te laat ooreenstem (balanseer jou begroting).

Vyf: Balanseer jou gietertjie deur te meet-en-te-pas Gooi 5 koppies vol water vir hierdie 5 potplante, 1 ½ koppie vir daardie ou; nee, dis te veel, maak dit 4; 'n ¾ koppie, 1 ½ koppie... nog 'n bietjie ... dan werk dit uit...

En as my totale uitgawes meer is as my totale inkomste? As ek nie die begrotingstekort met meet-en-pas kan uitwis nie, is ek verplig om 'n item in die volgende maand se begroting te plaas soos: 'Terugbetaling aan Maart-begroting' totdat die tekort uitgewis is. Dis pynlik, maar jy is nou in beheer, en jy beweeg in die regte rigting!

Meet-en-pas werk lekker op 'n werkblad (spreadsheet) soos Open Source (hy's verniet!) of Ms Excel. Alles wat jy m+p word vanself onderaan by jou groot-totaal gevoeg. (Het ek gesê ek is lui?) Nou mag jy mos daardie roomys eet EN dit geniet!

Ses: 'Steel' bietjie water vir volgende maand Kry 'n 'skelm' houertjie en gooi so nou en dan 'n kwart koppietjie daarin, en sit dit ver weg van jou gewone water. Vergeet daarvan. Ons noem dit spaar. Jy sal verbaas wees hoe gou groei jou 'kwartkoppies' tot 'n lekker bedrag vir daardie spesiale item soos klere; vakansie; verrassing vir jou vrou ... Geniet jou geld!

Geniet die lewe met die vrou wat jy liefhet, al die dae van jou nietige lewe wat Hy jou gegee het onder die son - al jou nietige dae; want dit is jou deel aan die lewe, en aan jou arbeid wat jy met moeite verrig onder die son. Prediker 9:9.

Neels Malan (082 815 1809)
(Kopiereg voorbehou)  
6 April 2009

sl-001
sl-002
sl-003
sl-004
sl-005
sl-006