Boodskap van Dr Roelf Petersen

'n Paar jaar gelede het die Kansel Mediagroep (KMG) Direksie die waagmoed getoon om 'n strategiese pionier in die Suid-Afrikaanse Uitsaai Industrie te word. Hierdie besluit het daartoe gelei dat Radiokansel 657AM (lid van KMG) en Broadcom International geskiedenis gemaak het deur die Industrie in die digitale era in te lei met die eerste regstreekse digitale mediumgolf uitsending en later die eerste mediumgolf toetsuitsendings in Suiderlike-Afrika.

Die resultaat hiervan is dat Radiokansel 657AM en sy digitale radio ontwikkellingsvennoot, Broadcom International, gesamentlik die 2017 DRM Enterprise Award (Africa) ontvang  het vir die bevordering van die Digitale Radio Mondiale (DRM)-standaard in Suiderlike-Afrika. Die DRM Consortium het hierdie prestasie op 15 September 2017 tydens die Internasionale Uitsending Konvensie in Amsterdam, Nederland, aangekondig.

Die toekenning is daarop gemik om belangstelling in die DRM-standaard in verskillende dele van die wêreld te kweek wat voordeel  uit  mediumgolf digitale radio sal trek.

Met digitale radio sal luisteraars uitstekende oudio kwaliteit kan geniet. Dink daaraan, glashelder klank in stereo op jou gunstelling stasie (sonder enige krapperigheid). Daarby sal luisteraars outomaties per stasienaam (en nie meer frekwensie nie) kan inskakel.  Wanneer die opvangsgebied verlaat word sal dit nie meer nodig wees om 'n frekwensie met die hand in te stel nie. Jy sal in staat wees om na opnames van jou gunsteling programme te luister en tot vier programme op een frekwensie sal dit moontlik maak om 'n wye verskeidenheid van veeltalige programme uit te saai.

Die DRM SA Platform (waarvan Radiokansel 657AM 'n stigterslid is) het alreeds met die Suid-Afrikaanse motorindustrie en verskeie verskaffers kontak gemaak oor die beskikbaarheid van digitale radio's. 'n Aantal voertuie is reeds met DRM radio's toegerus.
 
Die Platform is vol vertroue dat die onderskeie kommunikasieministeries en OKOSA so gou moontlik beleide en riglyne sal vasstel vir die implementering van digitale radio in Suid-Afrika. Sodoende sal ons nóg meer mense met die Woord van God, deur radio uitsendings, kan bereik.

Jou ondersteuning stel ons in staat om nuwe geleenthede in die Uitsaai Industrie te ondersoek en ontwikkel. Daarvoor is ons ewig dankbaar.

Groete,

Dr Roelf Petersen
Besturende Direkteur: Kansel Mediagroep

sl-001
sl-002
sl-003
sl-004
sl-005
sl-006