Logo

Sielskos

Lynreg vir Jesus

Deur Jean Lung

Wanneer laas het jy vakansie gehou by die see? Miskien kan jy sê: "Wat praat jy? Dit was mos nou net vakansie. Ek was natuurlik by die see!" Of miskien is jy so gelukkig om aan die kus te woon.

Enige een wat my goed ken sal vir jou kan sê: omtrent niks hou my uit die see nie. Jy sien, ek is 'n regte "Gautenger". Ja, een van dáárdie wat op die strand lê al pak die wolke saam en die wind skep-skep aan al wat strandsak is.

Van my geliefkoosde kleintyd-herinneringe is hoe ek versigtig met my groottoon aan die yskoue water voel, net om myself kort daarna van kop tot tone in die golwe te dompel.

Net so 'voel-voel-dompel' ons dikwels die nuwe jaar in. Ons voel versigting daaraan, maak 'n paar planne en nog voor Januarie verby is, dompel ons van kop tot tone in die nuwejaarsgolwe wat mens behoorlik kan rondrol.

My wens vir jou vir 2014 is dat jy wys sal kies, sonder om oorrompel te word. Die Here het goeie planne vir jou en jou gesin vir die nuwe jaar. Hy sê so in sy Woord, "Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here: voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle 'n toekoms gee, 'n verwagting!" (Jer. 29:11 – Nuwe Vertaling).

Kom ons kies om sy Woord en sy beginsels te volg, sommer vanaf die eerste dag. Hy beloof Hy sal dan alles wat nodig is vir ons uit sy oorvloed gee. Mag 2014 'n jaar van wyse besluite wees: 'n jaar waarin ons, in alles wat ons aanpak, lynreg vir Jesus kies!

Radiokansel © 2018 Alle regte voorbehou.