Logo

Sielskos

Oop vir Sy Wil

Deur Jean Lung

Die nuwe jaar wink ons blink-oog nader - vol ongesproke beloftes en dikwels (selfopgestelde) verwagtinge. Kersfees, net-net agter die rug, het my behoorlik laat dink! Ek het met 'n warm hart dopgehou hoe my kinders die geskenke van heinde en
verre een vir een oopmaak, asof hulle besig is om 'n enorme legkaart te ontrafel. En
net daar besef ek - dit is hoe ons die nuwe jaar moet benader: Dit is vol gebeure in
verskillende verpakkings.

Vooropgestelde idees en fyngekamde planne is kenmerkend van 'n nuwe jaar. Ons
wil nou maar een maal wéét wat gaan gebeur, maar dit werk meestal nie so nie. Die
feit is, net die Here ken werklik die planne wat Hy vir ons het. Een ding waaroor ons
seker kan wees is dat Hy net die beste vir ons beplan (Matt 7:11).

Maar... ons eie gedagtes mislei ons soms. Ons glo die Here se beloftes, herinner
Hom daaraan en sien met groot verwagting daarna uit. Dan gebeur die onverwagse
- jy dínk jy gaan jou belofte in 'n netjies verpakte, reghoekige houer ontvang, maar
o wee, dit wat jy kry lyk glad nie so nie! Jou belofte is in skitterblink ritsel-papier
ingebondel en toegeknoop. Om alles te kroon is jy oortuig dat jy tas-sensitief is! Hoe
nou? Hoe ontrafel mens so 'n 'geskenk'?

My raad aan myself (en aan jou) is: Laat toe dat die Here jou verras! Hy is die Waarmaker van sy Woord. Neem 'n wilsbesluit om dit wat Hy oor jou pad stuur oopkop te verken, laat vaar vooropgestelde verwagtinge en geniet die Een wie jou liefhet en jou seën.

Jou belofte mag dalk soos 'n uitdaging lyk, maar groei in die proses om dit te 'ontrafel'
en geniet die inhoud daarvan, want Hy is die Gewer van goeie gawes.

Radiokansel © 2018 Alle regte voorbehou.