Loflied van Sagaria

Verstaan jy wat jy lees met Braam Klopper

19 Desember 2014
Gaste: Dirk Venter & Dennis van der Spuy

Lukas 1:76-79

In die loflied van Sagaria (Lukas 1:76-79), word 'n spesifieke beeld, naamlik die beeld van die opkoms van die môreson, gebruik. Waarom is die beeld van die sonsopkoms dikwels so treffend?
 
Daar is geen ander tyd van die dag wat soveel belofte en hoop inhou as juis vroeg in die môre nie. Dit is wanneer die dag nog vars is. Dit is wanneer die dag nog 'n skoon bladsy met potensiaal is. Dit is asof die hele natuur vroeg in die môre met afwagting vervul is. Dit maak nie saak waar jy is nie, of jy nou langs die see is, of in die berge, of in die Karoo, of op die Hoëveldse vlaktes, of by jou huis in die stad, daar is iets spesiaals en mooi aan dié tyd van die dag wanneer die son opkom.

Die nag is om verskillende redes gevul met negatiewe betekenisse en veral daarom is die dagbreek in kontras met die nag, so positief. Dagbreek spreek daarvan dat die nag met al sy onsekerhede en bedreigings verby is en dat 'n nuwe dag met nuwe geleenthede vir jou voorlê. Ook in Lukas lees ons dat Jesus se koms vergelyk word met die opkoms van die môreson.

Lukas 1:79 sê dat die koms van Jesus lig gebring het om ons voetstappe te rig. In die lig van Jesus se koms word die pad wat ons moet loop vir ons duidelik. Jesus het die lig kom aanskakel sodat ons kan sien wat God van ons vereis. Jesus rig ons voetstappe op die pad wat Hy vir ons gebaan het, die pad na die ewige lewe.

Jesus se koms na die mensdom was soos die opkoms van die môreson oor 'n donker wêreld. Deur sy koms en deur sy dood en opstanding het Jesus ons kom verlos van die sonde. Hy het ons kom vrymaak van hierdie toestand van morele duisternis waarin die mensdom vasgevang was. Vir ons wat in Hom glo, is dit asof die nag van ons sonde verby is en die dag aangebreek het, sodat ons nou die nuwe geleentheid het om ons lewens vir God te lewe, nie meer deur sonde gebind nie.

So kan jy met nuwe oë na elke dag se sonsopkoms kyk as 'n teken van die verskil wat Jesus se koms in jou lewe gemaak het. Jy kan Hom loof dat jy nie meer in die duisternis en in die skaduwee van die dood hoef te lewe nie, maar dat die dagbreek van sy verlossing reeds vir jou aangebreek het. So groot soos die verskil tussen die nag en die dag, so 'n groot verskil het Jesus se koms in jou lewe gemaak.

In kontras daarmee, voel dit vir ons of dit nag is wanneer dit met ons sleg gaan. Maak nie saak wat die omstandighede is wat jou laat voel dat jy nag beleef nie, na die nag kom die dag. Hou jou oë op Jesus gevestig wat hierdie nuwe lig laat aanbreek. Gaan beleef dan die kontras tussen die donker van die nag en die opkoms van die son. Sien die opkoms van die son as teken dat iewers vorentoe in jou nag, die son weer sal opkom, want God is by jou.

sl-001
sl-002
sl-003
sl-004
sl-005
sl-006