Wees altyd dankbaar

Deur Liesl Krause-Wiid

Die verhaal word vertel van 'n jongerige dame wat saam met 'n ouer man deur 'n minder gegoede deel van Amerika per trein gereis het. Toe hulle deur 'n vervalle, vuil dorp ry, het die ouer man aanhoudend gesê Ag, maar dit is pragtig. Kyk net hoe mooi is dit daar buite. Die jong dame kon dit later nie meer uithou nie en het gevra, Hoe kan jy sê dit is mooi? Dit is vervalle en vuil. Die ouer man het haar geantwoord, Weet jy, ek het my sig in my middeljare verloor, maar ek het onlangs 'n kornea-oorplanting gehad en ek kan weer sien. Nou kyk ek sommer anders na die wêreld.
 
Ons neem soveel dinge as vanselfsprekend - soos om te kan sien. Wanneer laas het jy die Here geloof en prys omdat jy kan sien en hoor? 'n Veteraan valskermsoldaat wat beide sy hande in die Tweede Wêreldoorlog verloor het, het gesê, Dit is wat jy het wat tel, nie wat jy verloor het nie. Kom ons begin dus fokus op dit wat ons het. Kom ons begin fokus op Wie ons het - die Heilige Gees in ons harte. Ons behoort aan die Here, Hy leef in ons en ons is Syne.
 
Dalk kla jy elke oggend oor die verkeer, maar dit is 'n voorreg om 'n kar te kan hê. Dalk kla jy oor dinge wat skeefloop by die werk, maar wat 'n voorreg is dit nie om 'n werk te kan hê nie. Iemand het een keer gesê, Die manier om jou werk te waardeer is om jouself in 'n situasie te sien waar jy jou werk verloor het.

1 Tessalonisense 5: 18 sê, Wees in alle omstandighede dankbaar, want dit is wat God in Christus Jesus van julle verwag.
 
Hierdie teks sê nie dat jy slegs dankbaar moet wees wanneer jy so voel nie. Nee, hierdie teks sê: wees dankbaar. Dit is 'n opdrag. In die Griekse vertaling is dit duidelik 'n opdrag wat aan ons gegee word om dankbaar te wees. Kom ons fokus op die wonderlike voorregte wat God vir ons gegee het. Die geheim tot 'n gelukkige lewe is dankbaarheid. Om te kan glo is 'n gawe. Om 'n familie te hê, is 'n geskenk van God. Wanneer 'n mens dink aan dit wat Jesus vir jou gedoen het - dat Hy gesterf het aan die kruis, kan jy nie anders as om dankbaar te wees nie.
Wanneer dit egter sleg gaan, wonder ons hoe ons onder alle omstandighede dankbaar kan wees. Paulus gee vir ons goeie raad. Hy sê dit is deur Christus wat ons krag gee, dat ons tot alles in staat is. Christus leef in ons en deur ons en Hy gee vir ons krag om aan te gaan.
 
Paulus sê in Filippense 4:11, Want ek het geleer om my in alle omstandighede te behelp. Daag jouself vandag uit om op die mooi in jou lewe te fokus en God daarvoor te loof en te prys.

sl-001
sl-002
sl-003
sl-004
sl-005
sl-006