Leef in Geloof

Deur Dr Roelf Petersen

Ons leef in tye waarin die bestaan van God deur baie bevraagteken word, en die argumente van die voorstaanders van evolusie word op baie platforms gehoor, ja, veral ook in ons skole. Baie Christene se geloof word hierdeur getoets en soms betwyfel hulle die akkuraatheid van die Bybel.

Maar staan vas! Die meerderheid sterrekundiges, invloedryke astronome en wetenskaplikes van vandag glo dat die Bybel waar is, dat God bestaan en ook dat Hy die heelal en die mens geskep het. Dr Robert Jastrow, 'n voorste ruimtewetenskaplike, skryf: "Die astronomiese (sterrekundige) bewyse ondersteun die Bybelse verhaal van die ontstaan van die heelal - die detail verskil, maar die essensiële elemente van die sterrekundige en Bybelse weergawe in die boek van Genesis stem ooreen", soos beskryf in Why I believe deur Kennedy, D. James.

Ons as mense vind dit nie altyd maklik om in alle omstandighede in geloof te leef nie - die verhale van Moses, Elia en Petrus getuig daarvan. Dit lyk my dit is veral moeilik om geloof te behou wanneer 'n mens moeg raak en jou krag aan die einde van 'n uitdagende tyd minder word (dink maar aan Elia se desperate vlugtog ná sy oorwinning oor die Baal profete).

Maar ek en jy kan vashou aan dieselfde belofte en bevestiging wat God aan Moses by die brandende doringbos gegee het:

"Ek is wat Ek is"(Exodus 3:14)

Hierdie woorde was 'n belofte van God aan Moses en beskrywing van Sy bestaan, voorsiening en ewige teenwoordigheid. So bevestig Hy dan ook baie eeue later aan Jesaja: "Wat die Here sê, hou vir altyd (Jes 40:8)... Die Here is die skepper van die hemel en die aarde; Hy gee aan die wat uitgeput is weer nuwe krag, Hy maak die wat swakgeword het, weer sterk" (Jesaja 40: 28-31).

Die Here bemoedig en verwag van ons om van dag tot dag in geloof te leef en Hy verklaar dat ons geloof vir Hom meer kosbaar is as goud (1 Petrus 1:7). Dit word vertel dat goud 'n baie goeie geleier is van 'n kragstroom en ons kan dus, met respek gesê, deur geloof aanspraak maak op toegang tot God se ontsaglike kragbron.

Kom ons vertrou Hom vir vernuwing en versterking van ons geloof en om ons sodoende toe te rus om 2017 met nuwe krag en energie aan te pak.

 

sl-001
sl-002
sl-003
sl-004
sl-005
sl-006