Logo

Sielskos

God sal jou deur jou toets bring

Hebreërs 11:1 sê: Wat beteken dit om op God te vertrou? Geloof of vertroue in God beteken om nie een oomblik te twyfel nie dat Hy sy beloftes sal hou en om daarna uit te sien. Ons kan dit wel nie nou al sien nie, maar ons weet vir seker dat dit sal gebeur (DB). Die geloof is 'n vaste vertroue op die dinge wat ons hoop.

Jy gaan getoets word in jou geloof. Daar sal tye kom wat jy voel dat die toetse in jou lewe bo jou vuurmaakplek is en tog weet ons dat 1 Korintiërs 10:13 sê, Onthou, die versoekings wat oor julle pad kom, is nie uniek nie; ander ondervind dit ook. God is getrou. Hy sal keer dat die versoeking te sterk vir julle word. Midde-in die versoeking sal Hy vir 'n uitweg sorg sodat julle dit kan verduur (NLV). God sal jou saam met die versoeking 'n uitweg gee. Jou vermoë in God oortref by verre wat jy dink jy kan doen.

Jy moet ook nie net glo in die dinge wat jy kan sien en tasbaar kan ervaar nie. Hóm [God] het julle lief, al het julle Hom nooit gesien nie. Al sien julle Hom nou nie, vertrou julle op Hom; julle kan die wonderlike blydskap wat julle in julle voel, eintlik nie onder woorde bring nie (1 Petrus 1:8 NLV). 2 Korintiërs 4:17-18 beloof aan ons: Ons swaarkry op die oomblik is gering en tydelik, maar dit bewerk vir ons 'n heerlikheid wat alles verreweg oortref en vir altyd vas sal staan. Ons oog is nie op die sigbare dinge gerig nie, maar op die onsigbare, want die sigbare dinge is tydelik, maar die onsigbare vir altyd (NLV).

Daar is 'n spesifieke rede hoekom God jou toets. Die doel met die beproewings is om die egtheid van julle geloof duidelik te laat word. Julle geloof word getoets soos goud met vuur getoets en daardeur gesuiwer word; en onthou: Julle geloof is vir God baie kosbaarder as goud wat vergaan. As die toetse die egtheid van julle geloof uitwys, loop dit uit op lof en heerlikheid en eer op die dag wanneer Jesus Christus aan die wêreld geopenbaar word (1 Petrus 1:7 NLV).

Neem hierdie teksgedeeltes wanneer jy voor 'n toets te staan kom en swaarkry, lees dit weer, mediteer daaroor en maak dit deel van jou denkwyse. Pas dit prakties in jou lewe toe en God sal jou deur jou toets bring.

Radiokansel © 2019 Alle regte voorbehou.