Logo

Sielskos

Die Woord van God kan ons transformeer

Die Woord van God kan ons transformeer. Inligting uit die Woord kan ons inspireer, maar dit moet ons ook transformeer.

As ons kyk na die gelykenis van die boer en sy saad in Lukas 8, sê Jesus, ‘n Boer het uitgegaan om saad te saai. Terwyl hy dit oor die land gestrooi het, het 'n deel op 'n voetpad geval waarop getrap word en die voëls het dit kom eet. 'n Ander deel het in vlak grond op 'n klipbank geval. Hierdie saad het begin groei, maar het gou verlep en verdroog omdat daar nie vog was nie. Nog 'n deel het geval waar dorings opgeskiet en die nuwe blare versmoor het. En 'n ander deel het in vrugbare grond geval. Hierdie saad het gegroei en het 'n oes gelewer 100 maal soveel as wat geplant is… (vers 5-8 NLV).

Dit is waar die Here wil hê ons moet wees. Ons moet soos die saad wat op goeie grond val toelaat dat ons lewens getransformeer word, Geloof is ‘n wilsaksie waarop jy jou moet skoei, by dit wat die Here en die Woord vir jou sê. Die geloof volg uit die aanhoor van die boodskap. En die aanhoor van die boodskap volg uit die prediking van die Goeie Nuus wat handel oor Christus (Romeine 10:17 NLV).

As jy nie getransformeer word nie, gaan jou inspirasie nie lank hou nie. Wat maak jou anders as die persoon wat langs jou sit wat nie vir Jesus ken nie? Jou transformasie. Jy weet waarheen jy op pad is. Beteken dit dat jy nooit meer sondig nie? Nee, maar jy bely jou sondes voor die Here, laat dit staan en beweeg vorentoe. Jy transformeer deurdat jy die wilsbesluit neem om meer soos Jesus te word. Jy begin doen wat Hy doen en begin leef soos Hy wil hê jy moet leef, omdat die Gees van God binne in jou is.

Die Here het baie duur betaal om julle Syne te maak. God moet dus ook trots kan wees op julle liggaam - daarvoor moet julle sorg deur die manier waarop julle julle gedra (1 Korintiërs 6:20 DB). Jy moet God dus elke dag met jou optrede, dade en gedagtes eer.

Radiokansel © 2019 Alle regte voorbehou.