Franz Greffrath


Franz Greffrath shows

Franz Greffrath bied die program Onder die Soeklig van die Skrif op Radiokansel 657AM aan. Hy is ook die leraar van Bergbron Baptiste Kerk in Roodepoort, Johannesburg. Franz  is ‘n erkende predikant van die Afrikaanse Baptiste Kerke van Suid-Afrika.

Hy het sy teologiese studies aan die Christ Baptist Seminary en die Bible Institute of South Africa voltooi. Franz dien ook in die uitvoerende komitee van die Afrikaanse Baptiste Kerke van Suid-Afrika.

Hy het Jesus Christus op ‘n jong ouderdom as sy Heer en Verlosser gevind. “Ek het in ‘n nominale Christelike huis grootgeword. Daarmee bedoel ek dat ek en my ouers die Christendom bely het, maar dat ons nie die vrug van verlossing gedra het nie,” verduidelik hy. Hy is van tyd tot tyd deur sy grootouers, wat wedergebore Christene was, aan die Evangelie blootgestel. “Ek het tydens een skoolvakansie, op tien of twaalf jaar oud, ‘n evangeliese konferensie saam met my grootouers bygewoon. Hier het ‘n jong sendeling die Evangelie van die Here Jesus Christus in ‘n kinderdiens verduidelik,” onthou Franz.

God het daardie dag ‘n goddelike afspraak met Franz gehad en hom deur die Heilige Gees aangeraak. Daar het hy die Evangelie waarlik verstaan en met berou en reddende geloof Jesus as sy persoonlike Verlosser en die Here van sy lewe aangeneem. Franz sê dit bly die grootste vreugde van sy lewe om daagliks in intieme gemeenskap met God te wandel. Hy vind ook vreugde deur te werk vir die verspreiding van dieselfde Evangelie waarmee God eens ‘n verlorene soos hy gered het.

Hy is gelukkig met Esther Ruth getroud. Hulle het twee pragtige dogters, Iné en Elrike met ‘n derde dogter op pad.

Franz Greffrath – Radiokansel

Franz het by radio betrokke geraak toe ‘n mentor en mede-leraar in die voltydse bediening hom aangemoedig het om dit te doen.

Sy aanmoediging was gebaseer op my passie vir die korrekte en getroue uiteensetting van God se heilige Woord, die Bybel.

Hy glo sy doel in die lewe is om God te verheerlik en Hom vir altyd te geniet. Hy wil ander help om dieselfde te doen. Tydens sy radioprogram hoop Franz om luisteraars te neem op ‘n reis na ‘n dieper kennis van die Bybel, met die uiteindelik doel van groter gehoorsaamheid en lof aan God.

Hy word geïnspireer deur die woorde wat in 1 Korintiërs 10 vers 31 staan, wat sê: “Of jy nou eet of drink of wat jy ook al doen, doen alles tot Eer van God.” Luisteraars kan saam met Franz in die openbaring van God se Woord deel.



Current track

Title

Artist

Background
Radiokansel 657AM