Radiokansel se 40ste verjaarsdag het op die 4de van Augustus 2021 aangebreek. Ons het ‘n baie besondere verjaarsdaggeskenk ontvang en jy was ook daar

Om veertig jaar lank God se Woord op die luggolwe te deel, is ‘n mylpaal en rede om fees te vier.

Dit is ‘n prestasie waartoe jy ruim bygedra het. Hierdie mylpaal is ook joune om te vier en ons wil jou hartlik bedank vir jou ondersteuning.

Voor die groot dag aangebreek het, was ons opgewonde om ‘n vroeë verjaarsdaggeskenk te ontvang – die uitslag van onafhanklike navorsing deur Insights 2020. Volgens hierdie navorsing het ons luisteraarsgetalle sedert 2018 verdubbel en in Mei 2021 op 400 000 gestaan.

Hierdie syfer sluit nie net luisteraars op 657AM/MW in nie, maar ook die op ons toepassing, regstreekse stroming vanaf ons webtuiste en ons verskeie sosiale media platforms. Radio, digitale en sosiale media en ons uitgawes met daaglikse boodskappe bereik maandeliks 900 000 mense.

Radiokansel het die afgelope vier dekades ook “jonger” geword. Behalwe luisteraars in die ouderdomsgroep tussen 25 en 54 jaar, is Radiokansel nou ook die daaglikse reisgenoot van meer as 40 000 jongmense tussen 18 en 24 jaar.

Dit is nie net wonderlike nuus vir ons visie nie, maar ook vir ons adverteerders wat uit die aansienlike groei sal baat.

Dankie dat jy luister na die Goeie Nuus wat Radiokansel deel.

Dankie dat jy ons vertrou om ‘n betroubare en relevante mediastem te wees wat die jongste inhoud, leringe, getuienisse en musiek uitsaai wat geloof bou en mense aanmoedig en inspireer om ‘n betekenisvolle verhouding met Jesus Christus te hê.

Dankie dat jy met jou hartlike boodskappe en getuienisse deel was van ons drie dae van spesiale verjaarsdagprogramme.

Met jou ondersteuning bou ons voort op die fondament van 40 jaar – selfs in moeilike tye – terwyl ons die Woord van God aan jonger en ouer mense in Suid-Afrika en buite die landsgrense bring. Baie dankie.



Current track

Title

Artist

Background
Radiokansel 657AM