Die laaste vraag is: “Kan ons meer gaan kamp?”

Ten spyte van baie uitdagings en beperkings, het meer as vyftig vroue ons Deborah-kamp van 18 tot 20 Junie 2021 bygewoon.

Die tema van die kamp was, Praat Here, ek luister. God het ons van Sy teenwoordigheid bewus gemaak tydens besprekings dat ons die Bybel moet lees en ken om Sy Woord uit te leef.

Die Deborah-kamp is heel gepas vernoem na een van die invloedrykste vroue in die Ou Testament. Deborah was bekend vir haar persoonlike geloof en optrede en was ongewoon in die sin dat sy ‘n regter, profeet, soldaat, digter, sanger en liedjieskrywer was.

As ‘n regter (een van die Hebreërs se regeerders en die enigste vroulike leier) was Deborah bekend vir haar wysheid en beslissings.

As ‘n soldaat het sy opdragte van God ontvang en Barak, ‘n Israelitiese vegter, aangesê om 10 000 soldate na Berg Tabor te bring om die Hebreërs se oorwinning oor die Kanaäniete en Sisera se leër te beklink.

Jy kan Deborah se hele verhaal in Rigters hoofstuk vier en vyf lees. Die lesse wat ons uit Deborah se lewe leer, is:

  • Wees gehoorsaam. Luister na God se opdrag en tree op.
  • Wees dapper. God roep nie die bevoegdes nie, hy maak die wat hy roep, bevoeg. Wees moedig – vir Sy Heerlikheid.
  • Staan vas. Moet nooit twyfel nie. Al ken ons nie die pad vorentoe nie, moet ons slegs onthou God sal ons getrou lei en voor ons uitgaan.

En die antwoord op die vraag is: Ja, daar sal in die toekoms nog Deborah-kampe wees. Ons sien uit om jou daar te ontmoet.



Current track

Title

Artist

Background
Radiokansel 657AM