Radiokansel stel nuwe Uitvoerende Hoof aan

Written by on 16 Oct 2020

Ds Karel Verhoef, voorheen Bedryfshoof van Radiokansel 657AM, is as die nuwe Hoof Uitvoerende Beampte (HUB) van die Christen radiostasie aangestel. Dit volg na die uittrede van dr Roelf Petersen uit sy pos as Uitvoerende Direkteur van die Kansel Media Groep (KMG), na twintig jaar diens.

Karel Verhoef werk reeds 24 jaar by Radiokansel en het uitgebreide kennis van die Stasie se bedrywighede. Hy is ook ‘n geordende predikant in die Nederduits Gereformeerde (NG) kerk.

Sy visie as Radiokansel se Uitvoerende Hoof sluit in

  1. Om ‘n betroubare, relevante en treffende Christelike mediastem in Suid-Afrika te wees.
  2. Om ‘n vinnig-aanpasbare media-organisasie in die digitale era in Suid-Afrika te wees.
  3. Om ‘n betroubare korporatiewe burger van Suid-Afrika te wees.
  4. Om ‘n betroubare rentmeester te wees teenoor die donateurs van Radiokansel.

Karel dien oor die jare heen in verskillende organisasies in die mediabedryf, onder andere:

  • Kommissaris vir Reklamestandaarde (ASA) vir 8 jaar, waar hy die Nasionale Assosiasie vir Uitsaaiers (NAB) verteenwoordig.
  • Ondervoorsitter vir die Assosiasie vir Christen Media (ACM).
  • DRM SA platform (baanbreker in digitale radio in DRM formaat in SA).
  • Beoordelaar by die MTN Radio Toekennings en Liberty Life Radio Toekennings.
  • United Christian Broadcasters Africa (UCB Africa): Raadslid van hierdie Afrika-been van United Christian Broadcasters International.

Hy het grade in Teologie, Opvoedkunde en Sielkunde verwerf, ‘n meestersgraad in Besigheidsadministrasie (MBA) aan die Noordwes-Universiteit (NWU) voltooi en is ‘n geregistreerde psigometris by die Suid-Afrikaanse Raad vir Gesondheidsberoepe (HPCSA).

Karel dien die afgelope 24 jaar die NG-kerk as predikant deur sy betrokkenheid by die Pierre van Ryneveld Gemeenskapskerk, waar hy vir musiek sowel as gemeenskapsprojekte verantwoordelik is. Hy is met Jonellda, senior Menslike Hulpbronne-beampte by Vista Kliniek, getroud. Hulle het twee kinders, Jo-ane (eerstejaarstudent aan die Universiteit van Pretoria) en Karel Jnr (graad 12).


Current track

Title

Artist

Background
Radiokansel 657AM