Die Woord vir Vandag
2022-10-17
Hoe om wys en wel te lewe
Geskryf deur Bob and Debby Gass
'n Bejaarde dame het gesê: 'Een voordeel van 'n lang lewe is om dit wat ek geleer het, te kan deel. Laat my toe om drie geheime te deel wat jou lewe kan verbeter.' Toe het sy baie goeie raad aangebied:
1) 'Tyd is kosbaar, moenie dit mors nie. Nadat my man oorlede is, het ek by vriende gebly. Een aand het hulle met mekaar begin stry. Ek weet argumente vind plaas; ek en my man het self 'n hele paar gehad. Op daardie oomblik, het ek egter soos nooit tevore nie verstaan dat die tyd wat ons saam met mekaar het, kosbaar is. Moenie dit mors om oor dinge te stry wat nie sal saak maak wanneer jou geliefde nie meer daar is nie. Doen alles wat jy kan om in harmonie te leef en betoon liefde aan mekaar. Hoekom? Omdat dit nie saak maak hoeveel tyd julle saam het nie, dis nooit genoeg nie.
2) Maak goeie herinneringe bymekaar. Wanneer ek terugkyk, dank ek God vir onvergeetlike oomblikke. Die dag wat my man oorlede is het ons oudergewoonte mekaar die middag totsiens gesoen. Die aand was hy oorlede. Ek is altyd bly oor daardie finale soen. Skep dus herinneringe en nie oomblikke waaroor jy later spyt gaan wees nie.
3) Dis nie wat gebeur wat saak maak nie, maar hoe jy daarop reageer. Elke dag bring nuwe uitdagings wat jou liefde en voornemens gaan toets, mee. Jy het egter deur Christus die krag om elke toets 'n geleentheid vir groei te maak. Die lewe is vol skynbaar onaangename gebeure. Probeer om hulle op so 'n manier te hanteer dat wanneer jy oud is, jy daarop sal kan terugkyk en sê: 'Dankie Here, vir daardie ervaring; dit het my help groei.'
Dis hoe mens wys en wel leef!
Sielskos: 2 Sam 1:1-3:21; Joh 4:1-12; Ps 89:38-52; Spr 23:19-21
Skakels na Bybelverse: Holy Bible
Eerste Rekord | Vorige Rekord | Volgende Rekord | Laaste Rekord
Laat weet ons asb gerus indien hierdie Woord jou geseƫn het by gospel@radiokansel.co.za





