Die Woord vir Vandag
2026-10-10
Waak teen vooroordeel
Geskryf deur Bob and Debby Gass
Jakobus het vir die kerk geskryf: 'Gestel daar kom iemand in julle samekoms in met duur juwele en baie mooi klere aan, en daar kom terselfdertyd ook iemand in wat brandarm is en verslete klere aanhet. As julle dan 'n ophef maak van die persoon met die deftige klere, en julle sê vir hom: 'U moet asseblief hier gemaklik kom sit,' maar vir die arm man sê julle: 'Jy kan maar daar anderkant gaan sit,' of: 'Kom sit hier op die vloer,' sal julle nie toegee dat julle diskrimineer en mense op grond van verkeerde bewegings beoordeel nie?... as julle teen mense diskrimineer, doen julle sonde...' (verse 2-4; 9 NLV).
Die vroeë kerk het vinnig gegroei omdat daar geen plek vir vooroordeel was nie. Alhoewel die Jode en Samaritane mekaar verag het, het Jesus 'n plek vir Nikodemus, 'n Joodse leier, en vir die nie-Joodse vrou by die put wat vyf keer getroud was, gemaak. Die vroeë kerk het plek vir Onesimus, die voormalige slaaf, aan dieselfde tafel as Filemon, sy welgestelde voormalige meester, gemaak. Die evangelie gee almal, oral, 'n plek van waardigheid aan Christus se tafel.
Diskriminasie behoort geen plek in jou lewe te hê nie. Die profeet Habakuk het in sy uitkyktoring geklim om te '...wag om te sien wat die Here vir my gaan sê...' (Habakuk 2:1 NLV). Te veel van ons Christelike ervaring gaan daaroor om iets vir God te sê en te min tyd word bestee om te luister na wat God vir ons sê. Hy het beslis iets vir ons oor diskriminasie te sê. Vra Hom dus om jou te help om mense deur sy liefdevolle oë te beskou. Jy mag dalk net 'n paar mense anders as in die verlede sien.
Sielskos: Eks 16-18; Joh 3:9-21; Ps 110; Spr 26:13-16
Skakels na Bybelverse: Holy Bible
Eerste Rekord | Vorige Rekord | Volgende Rekord | Laaste Rekord
Laat weet ons asb gerus indien hierdie Woord jou geseën het by gospel@radiokansel.co.za







