Die Woord vir Vandag
2026-05-18
Die grootste mislukking is om nie te probeer nie
Geskryf deur Bob and Debby Gass
Dit is onmoontlik om suksesvol te leef sonder om risiko's te neem. Leo Buscaglia het geskryf: 'Om te lag is om die risiko te loop om dwaas voor te kom. Om te huil is om die risiko te loop om sentimenteel voor te kom. Om lief te hê is om die risiko te loop om nie liefde terug te ontvang nie. Om te lewe is om die risiko te loop om te sterf. Om te hoop is om die risiko te loop om wanhoop te ervaar en om te probeer is om die risiko te neem om te misluk. Risiko's moet egter geneem word, want die grootste gevaar in die lewe is om niks te waag nie. Slegs die persoon wat waag, is werklik vry.'
Franklin Roosevelt het 'n groot deel van sy lewe teen siekte geveg en was aan 'n rolstoel gekluister. Hy het gesê: 'Dit is gesonde verstand om 'n manier te kry en dit uit te probeer. As dit misluk, erken dit openlik en probeer 'n ander manier. Maar bowenal, probeer net.'
In sy boek, The Pursuit of Excellence, gee Ted W. Engstrom hierdie raad oor die belangrikheid om te probeer: 'Vanaf vandag kan jy begin om jou gawes te geniet, te gebruik en te ontwikkel. As jy nog altyd wou skryf, skryf dan iets - 'n kort artikel, 'n gedig, 'n verslag van jou vakansie. Skryf dit asof dit gepubliseer gaan word. As jy 'n fotograaf is, maak jou beste foto's bymekaar en skryf vir 'n kompetisie in. As jy dink dat jy 'n goeie tennisspeler is, neem dan aan 'n paar toernooie deel en kyk hoe jy vaar. Jy wen dalk nie die prys nie, maar dink net hoeveel jy sal leer en ervaar deur net te probeer. Die grootste mislukking is om nie te probeer nie!'
Sielskos: Rut 1-4; Matt 11:1-19; Ps 88:1-9a; Spr 13:1-3
Skakels na Bybelverse: Holy Bible
Eerste Rekord | Vorige Rekord | Volgende Rekord | Laaste Rekord
Laat weet ons asb gerus indien hierdie Woord jou geseΓ«n het by gospel@radiokansel.co.za




