Die Woord vir Vandag

2026-10-19

Eer God in jou huis

Geskryf deur Bob and Debby Gass

Josua 24:15 NLV

Luister na dagstukkie

Joe was 'n skrynwerker wat vir 'n boukontrakteur gewerk het. Eendag het die kontrakteur vir hom gesê: 'Joe, ek stel jou in beheer van die volgende huis wat ons bou. Ek wil hê jy moet die materiaal bestel en toesig hou oor die werk.' Joe het die opdrag met groot entoesiasme aanvaar. Hy het die bloudrukke bestudeer en elke meting en spesifikasie nagegaan. Toe het hy gedink: 'As ek werklik in beheer is, hoekom kan ek nie 'n paar kortpaaie vat nie, goedkoper materiale gebruik en die ekstra geld in my sak steek nie? Wie sal weet? Sodra die huis geverf is, sal dit fantasties lyk.' Joe het toe tweedegraadse hout en goedkoop beton bestel, goedkoop bedrading ingesit en elke kortpad gevat wat hy kon.

Toe die huis klaar was, het die kontrakteur dit kom besigtig. 'Jy het 'n goeie werk gedoen!' het hy gesê. 'Jy was al die jare getrou aan my en ek het besluit om my dankbaarheid te betoon deur jou hierdie huis wat jy so pas gebou het, as 'n geskenk aan jou te gee.' Nag na nag, terwyl Joe in die bed gelê en geluister het na die dak wat lek en die vloer wat kraak, het hy die boodskap hard en duidelik gehoor: Die huis wat jy bou, is die huis waarin jy sal moet woon!

Skeep jy jou eggenoot en jou gesin af wat liefde, tyd, voorbeeld en onderrig betref? Jy kan maar weet: daar sal 'n tyd kom wanneer jy spyt sal wees oor wat jy gedoen het en nagelaat het om te doen. Afhangende van tyd en geleentheid, mag jy dalk nie 'n kans kry om dit ongedaan te maak nie. Maak dus die volgende jou gebed: '...Ek en my huisgesin sal die Here aanbid.'

Sielskos: Eks 36-38; Joh 5:16-30; Ps 41; Spr 27:7-9

Skakels na Bybelverse: Holy Bible

Eerste Rekord    |    Vorige Rekord    |    Volgende Rekord    |    Laaste Rekord

Laat weet ons asb gerus indien hierdie Woord jou geseΓ«n het by gospel@radiokansel.co.za



Current track

Title

Artist

Background