Die Woord vir Vandag
2026-01-13
Wat gaan ons in die hemel doen?
Geskryf deur Bob and Debby Gass
As jy 'n doelgedrewe persoon is, mag die gedagte om vir alle ewigheid te sit en niks doen, jou nie vreeslik aanstaan nie. Dis egter nie die geval nie. Wanneer ons by die hemel kom, gaan God nie sê: 'Welgedaan voortreflike slaaf; jy kan die res van alle ewigheid afvat,' nie. Nee, Hy gaan sê: '...Uitstekend! Jy is 'n voortreflike slaaf; een op wie ek kan staatmaak. In die kleine het jy jou betroubaar bewys. Daarom gaan ek nog baie groter verantwoordelikhede aan jou toevertrou...' (Matteus 25:21 NLV).
Daar gaan baie dinge vir ons wees om te doen. Ons weet reeds dat ons saam met Christus oor hierdie hernude aarde tydens sy duisendjarige heerskappy sal regeer (sien Openbaring 20:6). Openbaring 22:3 (NLV) sê ook: '...sy diensknegte sal Hom vereer en dien.' God sal nie net 'n plek vir elkeen van ons hê nie, maar ook 'n plan. Die hemel gaan nie vervelig wees nie, want God is nie vervelig nie! Die Psalmdigter het gesê: '...in u teenwoordigheid is vreugde, en aan u regterhand is daar blydskap vir altyd' (Psalm 16:11 NLV).
Omdat ons in God se teenwoordigheid gaan wees, sal alles wat ons doen vir ons vreugde en bevrediging verskaf. God het die ewigheid in ons harte geplaas (sien Prediker 3:11). Dit beteken dat God in ons 'n spasie geskep het wat slegs deur die hemel gevul kan word. Ons sal nooit alles wat God vir ons in ons hemelse tuiste voorberei het, kan begryp nie. Ons kan ook nie hemel op aarde herskep nie. Wanneer ons egter kies om vir ons ewige tuiste wat vir ons wag voor te berei, verskuif ons aardse fokus na 'n lewe wat God behaag en eer en ander mense na Hom toe bring.
Sielskos: Lev 23:26-25:55; Luk 2:34-40; Ps 74:1-11; Spr 2:6
Skakels na Bybelverse: Holy Bible
Eerste Rekord | Vorige Rekord | Volgende Rekord | Laaste Rekord
Laat weet ons asb gerus indien hierdie Woord jou geseën het by gospel@radiokansel.co.za




